Tatoeëermerke verbind man met beweerde verkragting

DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat van verkragting aangekla word en glo aan tatoeëermerke aan sy gesig uitgeken is, is in die Oudtshoorn Streek­hof vir verdere getuienis tot 24 Au­gustus uitgestel.

Anton Mei word daarvan aangekla dat hy ’n jong vrou wat van ’n partytjie onderweg was huis toe, voorgekeer en verkrag het.

Die vrou het getuig dat die beligting in die straat haar in staat gestel het om die tatoeermerke onder Mei se oë en aan sy nek te sien. Sy het hom daarna by twee geleenthede gesien, voordat hy in hegtenis geneem is.

Volgens haar was die woord “hond” duidelik op sy nek leesbaar.

Mei ontken die verkragting en sê dat hy baie mense ken met tatoeëermerke aan hul gesigte.

Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor. (Deur Garnett Wicomb)