Dit is 26 Junie 2007 en my beurt om die lone en rantsoene op die Kwangulule wildplaas daar tussen Louis Trichardt en Messina, net anderkant die Mopane stasie, te kry. Dis maar ’n baie besige nege uur trippie met die motor heen en weer en jy moet oorslaap, maar ek het nie tyd nie want my seisoen is in volle swang.
Ek het juis twee dae tevore van Mosambiek af teruggekom en moet oor twee dae weer terug. Dit is nou waar die vermoë om self te kan vlieg werklik tot sy reg kom.
Ek oortuig vir Romana om saam te “ry” die Dinsdag want dan kan ons vinniger alles op die plaas deurkyk om seker te maak alles is skoon en reg sou daar gaste of jagters aankom en dit is in elk geval ’n lekker trippie met die vliegtuig, nie te lank nie en dan het ek darem geselskap soontoe en terug op die koop toe.
Ons saal die Aerostar op met alles wat nodig is en vlieg gou die reguit 380 km plaas toe van Wonderboom lughawe af.
Dit neem net meer as ’n uur, waarvan die frustrerende deel is om eers net uit die besige Johannesburg lugruim te kom. Die wasige Springbokvlakte vol kleurvolle spilpunte en die groen-bruin bosveld gly rustig onder ons deur terwyl ons die Soutpansberge begin sien in die verte. Nie lank nie, en ons land op die ellelange aanloopbaan op die plaas, en die voorman/drywer/oppasser met die naam Debruyn (regtig!) is daar om ons Lodge toe te neem.
Alles loop mooi op die plaas en die wild lyk goed, al begin dit nou droog word. Ek gee Debruyn en sy assistente se geld vir hulle en ons stap rustig al die fasiliteite deur. Romana kom roep my en sê ek moet iets kom kyk in die lapa. Daar sit toe ’n klein hondjie – ’n swartkop foxie met ’n lang neus en wit lyfie.
Hy sit kop onderstebo en is duidelik nie gelukkig nie. Jy kan sommer sien die outjie is erg depressief. Ons hoor toe die storie by Debruyn.
Hulle was eers twee, maar ’n slang het die een gepik en hy is dood. Een van die manne het hulle daar gelos om as spoorsnyhonde te gebruik. Ek sal my nou nie oor daardie oordeel uitlaat nie.
Nou ja, dit is net daar waar die outjie ’n nuwe huis kry en hy is onmiddellik in die vliegtuig saam met ons terug huis toe op Romana se skoot.
Hy kry die name Spyker (by my) en Spiekeries (by Romana) op pad terug, maar uiteindelik het almal hom maar Peeg of Pegie genoem en wat ’n dierbare hondjie was hy nie!
Die honde by die huis was heel ingenome met die nuwe maatjie en het hom geredelik aanvaar as een van die familie.
Pegie het oor die jare uiteindelik baie saam met ons gevlieg, veral Suid-Kaap toe, vir die Desember vakansies oor die jare. Die diere was totaal gelukkig en het gelê en slaap meeste van die tyd.
Dis was nogal komieklik…ek sit voor en doen die vliegwerk, en Romana sit heel agter omring deur kat bokse en drie honde op hulle komberse vir die drie uur trippie Plett toe. Peeg is uiteindelik saam Klein Karoo toe en het die plaaslewe baie geniet – veral as jy vir hom klippies in die rivier gooi om te jaag.
Ons het nie regtig geweet hoe oud hy was toe ons hom aangeneem het nie, en soos dit met hondjies gaan word hulle oud en broos vinniger as wat mense doen.
Hy het later maar begin laat lê en ek moet sê vinniger begin oud word toe sy groot maatjie Mila begrawe is.
Die alleenheid het die ou begin vang en later was die eens pikswart bekkie al spietwitgrys en al sy voorste tandjies het al uitgeval. Na 15 jaar by ons het hy het kwaai begin sukkel met sy gesondheid.
Hy het begin doof en blind word en die skrif was aan die muur vir ons om weer deur die seerste seer te moet gaan.
Pegie is langs Mila begrawe op die plaas en ek kyk gereeld met ’n glimlag en ’n traan na die netjiese twee hopies klippe onder in die tuin, en dink maar aan die mooi lirieke van Koos Du Plessis:
Jy hoor my nie meer nie,
Ek sê maar totsiens.
Ek sal jou nie steur nie,
Ek loop ongesiens,
want jy is in oorde waar drome nog blom.
Ek groet sonder woorde,
want hartseer is stom.
Mooi loop ou Peegman…(Deur Johan Strasheim)
