Kingdom News: Is Jesus deel van jou storie?

Bo: Yolande Grebe saam met haar gesin, Wian, Megan en Ranger. Foto verskaf

Met elke getuienis wat ek het in my lewe, was die uiteinde altyd, dat ja, Hy is. “God will get all the glory for my story.”

My ma en pa is geskei toe ek 3-jaar oud was. Ek en my ma het Johannesburg toe getrek en my pa is nooit weer getroud nie. Hy het alleen gebly. Ek het hom net Desember maand gesien. Dit was ’n moeilike tyd maar ek het altyd gesê na matriek kan ek by hom bly. My gebed was ook altyd, Vader asb moenie dat hy alleen doodgaan nie.

Verlede jaar Maart het ek soos elke dag na my pa toe gegaan en vir hom kos gevat. Toe ek instap toe lê hy op sy sitkamer vloer en was nie by. Ek het dadelik begin uitroep na hom en net hard begin bid. Toe my pa sy oë oopmaak was dit die eerste ding wat hy my vra “waar is die man wat op die bank gesit het?” Ek het gesê Pappa hier is niemand nie. Hy het baie oortuigend gesê die man was daar en dat hy gesê het dat hy ok sal wees. Ek het dadelik besef dit was ’n Engel.

My pa het toe ook weke daarna sy bobeen gebreek en van daar af het alles net agteruit begin gaan. My pa wou niks meer doen nie en het half in ’n depressie begin verval. Toe kom daar ’n dag wat my pa niks meer vir homself kon doen nie. Na ’n redelike gestryery het ek hom by my huis gekry en geglo by ons sal hy beter raak. Hy moes sy huis, hond en voëls agterlos.

My hart was stukkend vir hom, maar ons kon nie anders nie. Elke dag het ek vir die Here gevra asseblief help my, alleen kan en wil ek dit nie doen nie. Nooit uit myself nie, maar alleen uit U genade.

Op 24 Desember vertel my sussie vir my dat sy van my pa gedroom het. Sy droom ek skarrel rond in die huis en ek is op my foon. Toe staan ek op my stoep en daar is ’n ambulans voor my huis, maar niemand is daarin nie. Toe sien sy my gras is so mooi helder groen (ek het nie gras nie) en sy sien my pa dans op die gras. Ek het vir my man van die droom vertel en hy het dadelik gesien my pa gaan by ons doodgaan en hy gaan nie alleen wees nie. Ek het net weer besef Jesus is in my pa se storie. My gebed was ook dat my pa se siel nie verlore sal gaan nie en bonatuurlik het Ranger hom gelei dat hy sy hart vir Jesus sal gee. Dit was so ’n blessing.

My pa was amazing en sy hart was net altyd om mense te help, maar tog het hy met seer en verwerping gesit. Wanneer ek moeg was het die Here amazing vriendinne op my pad gestuur en ek weet soveel gebede van hulle en my gesin het my so gedra. Maar elke dag was ’n voorreg om dit vir my pa te kon doen. Hy was mal oor Psalm 23 en ek het dit gereeld vir hom gelees en oor hom gebid.

Baie dae voel mens alleen in die stryd, dan herinner die Heilige Gees my dat die stryd is nie joune nie maar die Vader s’n. Saterdag 13 Januarie 2024 het ek heel nag by my pa gesit. Hy het soveel pyn gehad. Die hele nag deur het ek net gebid en gehuil. Deur die morfien was sy pyn baie erg.

Dr Gert het Sondagoggend gekom en saam gebid en ons het sy medikasie aangepas maar die pyn was steeds daar. Die middag toe ons weer saam met hom bid toe wys hy vir my vriendin na iets baie groot agter Ranger en sê toe vir haar dis mooi nê. Weereens het ek geweet dit was ’n Engel.

Sondagaand toe is my pa stil. Dr Gert sê ons kan met hom gesels, hy hoor ons maar kan nie meer praat nie. Sy asemhaling was nie goed nie. Ek is toe op en af in die gang om ’n ambulans te kry.

Toe hulle daar stop toe sit hulle ’n hartmonitor op hom. Ons het besef ons moet hom bless en release. Toe hulle dit weer opsit toe is my pa na Jesus toe. Ek het op die stoep gaan staan en huil maar toe ook besef hier staan die ambulans en my pa is nie in dit nie. Die lykswa het ook buite gestaan en daar was ’n groen mat in dit en toe besef ek dit was die gras. My pa se liggaam was daarin maar sy siel het gedans by Jesus.

Jesus het my alreeds voorberei deur my sussie se droom, sonder dat ek dit besef het. Hy was net altyd in beheer. My pa het ook nie alleen doodgegaan nie. My pa het op 7 Maart verjaar. Ek was heeldag by sy huis. My pa se gunsteling voël was ’n visarend. Daardie dag skreeu ’n visarend in die veld voor my pa se huis.

Trane van dankbaarheid, Jesus was in my pa se storie!

Romeinie 12:12 was een van die verse wat Jesus gereeld vir my gegee het. “Sien met blydskap uit na daardie dag, waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Bid sonder ophou.” (Deur Yolande Grebe)