
Deur: Reinderd Visser
Nog ’n bydrae uit Reinderd Visser se fassinerende en voortgaande navorsing oor die Eerste Wêreldoorlog, wat onder meer ook die stories van mense van Oudtshoorn en omgewing by die oorlog insluit – soos die bydraes oor Williams Thorne wat die slag van Dellvillebos oorleef het, Frederick Feast van Wynandsrivier wat daar gesterf het en Booi Tshikila wat die SS Mendi-ramp oorleef het.
Deur Reinderd Visser
OUDTSHOORN het in die vroeë 1900’s as die Jerusalem Van Suid-Afrika en ook Klein Jerusalem bekend gestaan, omdat hier so ’n groot Joodse gemeenskap gewoon het. Trouens, daar word gesê dat daar in 1914 tot 600 Joodse families in die Klein Karoo gewoon het!
Dit was daarom seker logies dat sommige van die Joodse jong mans van hier ook sou besluit om oorlog toe te gaan toe die oproep kom om in Europa te gaan veg. Sommige van hulle sou nooit terugkeer nie. Vandeesmaand staan ek stil by een van hierdie jong mans, Moses Wolff Danzig, of soos hy bekend gestaan het, lt Morris William Danzig.
’n Groot deel van die Joodse gemeenskap op Oudtshoorn was vanuit Litaue afkomstig. Daar was veral twee redes waarom hulle in die 1880’s daarvandaan gevlug het – eerstens as gevolg van anti-semitiese optrede teen hulle en tweedens omdat die Russiese leër Joodse jong mans teen hul sin verplig het om vir ’n onbepaalde tyd leërdiens te doen.
Van dié jong mense wat in Kaapstad aangeland het, het van die suksesvolle volstruisverebedryf in die Klein Karoo gehoor. So het dit gebeur dat Michael en Gerta Danzig van Shavel in Litaue op Oudtshoorn beland het, waar Michael as verehandelaar begin sake doen het.
Hulle het in Queenstraat (nou Baron Van Reedestraat) gebly, wat volgens vertellinge beteken het dat hulle redelik welgesteld moes wees, want dit was blykbaar hier waar die ryker Jode gewoon het. Ek lees dat die armer Jode in St John-, Hoog- en Adderleystraat gewoon het. Uit sy huwelik met Gerta is vier kinders gebore – Samuel, Leah (wat met ’n Jack Gassner getroud is), Bertha en Moses (Morris van ons verhaal). Michael is in 1914 in die ouderdom van 63 jaar oorlede en dit wil voorkom dat sy oudste seun, Samuel, sy sakebelange oorgeneem het.
Moses, Michael se jongste kind, het by die Oudtshoorn Boys’ High skoolgegaan en op 27-jarige ouderdom besluit om medies aan die South African College in Kaapstad te gaan studeer. Hy het sy studie in 1915 voltooi. Met die oorlog al goed op dreef het hy besluit om as dokter by die Royal Army Medical Corps aan te sluit. Wanneer presies hy aangesluit het, weet ek nie, maar wat ek wel weet, is dat hy in April 1917 op ’n militêre skip op pad vanaf Engeland na Alexandrië in Egipte was.
Die skip waarop hy was, die HT Arcadian, moes 1 335 soldate na Egipte neem, van waar hulle na Palestina sou gaan om die Turke, wat aan die Duitsers se kant geveg het, aan te durf.
Die Turke het die belangrike Suez-kanaal in die oog gehad. Met die Suez-kanaal in hul hande sou die Geallieërdes die langer roete om die suidpunt van Afrika moes neem om goedere (rou materiaal en olie) en soldate van Indië na die Midde-Ooste en Europa te vervoer.
Die Arcadian het in Griekeland by Tessalonika aangedoen voordat hulle die tog op 14 April 1917 voortgesit het. Wat ek nogal interessant vind, is dat hulle deur ’n Japanse torpedojaer begelei is om hulle teen veral Duitse duikbootaanvalle te probeer beskerm. Japan was in die Eerste Wêreldoorlog ’n vriend van die Geallieërdes!
Ek het hierbo geskryf “probeer beskerm”, want om ongeveer halfvyf die middag van 15 April het ’n Duitse duikboot tog daarin geslaag om die Japanse oorlogskip te ontwyk en een torpedo op die Arcadian af te vuur. Dit was ’n voltreffer en die skip het onmiddelik begin sink. Trouens, dit is op rekord dat die skip binne ses minute onder die water verdwyn het.
Die geluk by die ongeluk was dat die troepe skaars ’n halfuur vóór die aanval ’n ontruimingsoefening met die reddingsbote gedoen het en hulle juis daarom die reddingsbote wat nie in die ontploffing beskadig is nie, vinnig en effektief in die water kon kry. So is die meeste van die soldate gered. Die Japanse skip, wat self ook twee torpedo’s moes ontwyk, het vinnig nader gevaar en nog reddingsbote in die water laat sak. Die meeste soldate is so van verdrinking gered.
Nie almal kon egter van die skip af wegkom nie. Kokke, stokers en soldate wat in die binneruim van die skip was of wat in die water was en deur die sinkende skip onder die water ingetrek is en nie betyds die oppervlak kon bereik nie, het verdrink – ’n totaal van 279 mense. Ook lt Morris Danzig het verdrink, en sy liggaam is nooit gevind nie!
In Tessalonika in Griekeland is daar die Mikra Britse begraafplaas en gedenkmuur. Morris Danzig se naam staan op dié gedenkmuur saam met dié van ander soldate en mediese personeel (ook verpleegsters) van ten minste vyf skepe wat in die omgewing gesink het en wie se liggame nooit gevind is nie.Sy naam verskyn ook op ’n ererol van die Universiteit van Edinburgh in Skotland.
Moses se broer, Samuel, het in September dieselfde jaar gesterf op die ouderdom van 43 jaar en is in die Joodse Begraafplaas op Oudtshoorn begrawe. Die familie het dit goed gedink om ook sy jonger broer se naam as herinnering op sy grafsteen aan te bring, met ’n aantekening by van hoe hy gesterf het. Moses Wolff Danzig, nog ’n Oudtshoorn-seun wat nie van die Groot Oorlog af teruggekom het nie.
(Bonne: www.seligman.org.il/oudtshoorn_jews. html; www.firstworldwar.com/diaries/torpedoed. htm)
• Reinderd Visser se selfoonkontaknommer is 072 903 3707.

Die graf van Samuel Danzig en Morris Danzig in die Joodse Begraafplaas op Oudtshoorn. Foto: Reinderd Visser