
NOG een van die kosbare geboue uit die volstruisveerjare, wat helaas verlore gegaan het, was die indrukwekkende Imperial Hotel wat op die hoek van Hoogstraat en St Johnstraat gestaan het – daar waar Shoprite in ons leeftyd was.
Die Imperial was die kuierplek van die rykes, waar talle staaltjies en stories ontstaan het.
Die Imperial is in 1903 gebou in skakerings van sandsteen wat gewissel het van ligroos tot oranje en geelbruin. Die vloerplanke was van geelhout met ’n sierlike trapreling van stinkhout. Die lampe was van geelkoper en swaar kristal en die eetgerei versilwer. In die voorportaal en sitkamers was matte uit Egipte en Iran. In sy laaste jare was daar drie permanente inwoners wat elkeen £12/maand betaal het vir ’n ruim kamer met ’n eie badkamer, drie etes per dag en wasgoed.
Die grootste kamer, Kamer 1, het die bynaam “Dobbelkamer” gehad, want dit is waar die volstruisbaronne aand vir aand skelm gedobbel het en waar Chaikel Lazarus sonder om ’n oog te knip ’n weddenskap van £500 op ’n hand vol kaarte sou waag. Die Toringkamer was op die dak en daar is elke oggend die landsvlag gehys. Tydens die Oorlog het ’n trompetblaser elke aand met skemer daar opgeklim en die “Laaste Taptoe” gespeel vir die dag se gesneuweldes.
Die Imperial was die eerste hotel in die land wat ’n spyskaart in Afrikaans laat druk het. Vandag nog kan ’n mens sien dat ’n gewone middagmaal, met 5 vleisdisse, voor en nagereg en bykosse vir 4 sjielings en ses pennies daar genuttig kon word.
Maar die een Oudtshoorniet wie se naam vir ewig aan die Imperial gekoppel sou wees, was die flambojante en skatryke Dykie Tooch van Waaikraal.
Dit was in Kamer 1 waar oom Dykie gereeld die besoekers vermaak het deur sy sigaar met ’n £5 noot aan te steek. Dit was eers jare later dat Chaikel Lazarus uitgekom het met die waarheid. Oom Dykie sou die nommer van die noot netjies tussen sy duim en wysvinger vasknyp en die volgende oggend die noot by Standard Bank gaan inruil vir ’n nuwe!
Die Imperial moes oom Dykie dikwels vir ’n rukkie verban oor sy onnutsighede. Een aand is hy vies vir sy broer Jossie, wat ’n mak boerbok aangehou het en wat oom Dykie vreeslik versondig het in sy fyntuin. Dié aand ry oom Dykie met die bok dorp toe en hy gaan soek na oom Jossie. Sy gedagte is om die bok in Jossie se hoetelkamer te los, maar reg langs die Imperial staan oom Jossie se blinknuwe, spoggerige Studebaker. Sonder om te huiwer maak oom Dykie die bok in die nuwe Studebaker toe en ry terug plaas toe. Die volgende oggend kom oom Jossie af op die gemors – die motor stink onmenslik, die straaltjie loop al onder die deure uit en die sitplekke is gaar getrap!
Maar oom Dykie se mees berugte vergryp was die aand toe die Minister van Landbou die dorp besoek en graag wil kennis maak met die voorste boere. Oom Dykie het nie veel van die politiek gedink nie, maar hy vat hom netjies uit in ’n manelpak en strikdas en hy sit af Imperial toe. Daar word die minister voorgestel aan die boere wat op ’n ry staan en wag om sy hand te skud. Tot hy by oom Dykie Tooch kom. Oom Dykie is die enigste man wat nie ’n pluiskeil op sy kop het nie.
“Waar is jou keil?” sis die buurman toe hy sien die minister is feitlik by oom Dykie. En sonder om ’n oog te knip haal oom Dykie sorgvuldig ’n spierwit poselein kamerpot met oranje blommetjies op die kant onder sy manelpante uit en sit dit op sy kop! Die minister was sprakeloos!
Vandag is die Imperial Hotel deel van die erfenis van Oudtshoorn wat nog net in herinneringe van ou handjievol mense bestaan – en in die stories wat ons darem nog het om oor te vertel. (Deur Daniel Lötter)