Opleiding, opleiding, opleiding… én die ander kant van die munt

Hannelie Rix skryf oor hande-in-die-hare-oomblik met telefoon-operateur

VERONDERSTEL jy as ’n winkelbestuurder het ’n nuwe personeellid aangestel. Dié persoon gaan min of meer dieselfde werk doen wat hy in sy vorige werk gedoen het. Dit stel jou gerus, want die persoon is reeds opgelei en weet wat om te doen. Maar dan kom jy agter dat hy dinge bietjie anders doen of situasies ietwat anders han­teer.

Dit is belangrik dat elke besigheid, maak nie saak hoe klein of groot nie, ’n oplei­dingshandleiding moet hê.

Indien jy as werkgewer nie tyd het om self opleiding te gee nie, gee dan ten minste die handleiding vir die persoon om deur te lees. Die werk­nemer sal sodoende ook beter verstaan wat van hom of haar verwag word.

Net soos daar ’n werkskontrak of werksooreenkoms tussen die werk­gewer en werknemer geteken word, kan die werknemer ook ’n handleiding onderteken. Die werkskontrak bevestig die voorwaardes en reëls van die besig­heid en die handleiding bevestig wat jy, as werknemer, van hom verwag ten opsigte van sy gesindheid, mensekennis en vaardighede.

Kom ons draai die munt­stuk om en kyk ook na die ander kant; die kant van die werknemer en hoe hy/sy die kliënte ervaar.

Ons kan darem baie keer onredelik moeilik wees.

Die woorde wat ons gebruik, omdat ons haastig is of omdat ons sommer net wil seer­maak, is soms onnodig kras. En dan soek ons bevestiging by mekaar, omdat ons onsself die reg voorbehou om so op te tree.

Riekert Botha sê Maandag­-aand gedurende sy Pinksterpreek: “ ’n Rukkie gelede raak ek onstuimig kwaad en tree soos ’n pie­sang op. My vrou sê toe vir my: ‘Rie­kert, jy moet óf jou gedrag, óf jou getuienis verander.’ ”

Daar is niks daarmee verkeerd om oor swak diens ongelukkig te raak nie, maar kom ons behou ons waardigheid deur die mens voor ons raak te sien.

Help hom of haar eerder reg deur te sê: “Ek weet jy bedoel dit goed om my as tannie aan te spreek, maar ek sal dit verkies indien jy mevrou sê.”