Juffrou Jones tree uit; hoe sê mens dankie na soveel jare?

Juffrou Jones, op foto links saam met haar dogter Eldene.

Ná die noodlot ons as familie in Desember 2021 en Maart 2022 getref het toe ons my ma se enigste twee susters aan die dood afgestaan het, haal ons weer asem.

Die noue band tussen my en Ma is nie onbekend nie. Ek koester haar ná al die jare, die onafhanklike, sterk vrou, wat nooit opgehou het met werk nie. Ek kon die hewige struikelblokke dikwels in haar pad sien, maar nie vir een oomblik het sy opgehou werk of opgehou hoop vir ’n beter toekoms vir haar en haar kinders nie.

Hoe sê ’n mens dankie ná soveel jare? 42 jaar om presies te wees! Sjoe, dit wil gedoen wees.
Oral waar ek sou loop in die strate van Oudtshoorn, wou mense weet of ek Juffrou Jones se kind is.

Verbaas moes ek altyd antwoord: “Ja… Hoe is dit moontlik dat soveel mense my ma ken? Grootmense, jongmense en soveel kinders is tydens haar onderwysloopbaan deur my ma aangeraak. Almal vertel hoe streng maar tog ’n goeie mens sy was. Sy is alombekend as die naaldwerkonnie wat haar voetspoor by verskeie skole gelos het.

1980: Kruisrivier Primêr en Buffelsdrift UCC Primêr; 1982: Joe de Jager Primêr (Bloemfontein); 1983: Protea Primêr; 1984-1988: Laerskool Bergsig, Franken Primêr en Sacred Heart Primêr; 1988/2017- Franken Primêr; 2017- 2022: De Villiers Primêr.

Wie sou kon dink dat die laaste vyf jaar van my skoolloopbaan die beste was, by my ma! Die gesindheid was goed, daar was liefde. Ek kon myself wees; altyd lag met my eie grappie of twee om die atmosfeer van ’n soms veeleisende situasie te verlig.

My ma was altyd my grootste inspirasie, my trots, my rots, ook nou met my nuwe dramaskool op Oudtshoorn onder die han­delsmerk E-Entertainers, waar ek fokus op oud en jonk wat die geleentheid soek om hulle uit te leef op die verhoog, of in die televisie- en fliekbedryf. Ek hoop om dit wat ek by haar geleer het nou te gebruik en ook ’n sukses hier op ons dorp te maak.

Hier by Pro Academy vat ons hande met ander besighede. Vir meer inligting kontak Eldene by 064 764 3869.
– Eldene Jones, Oudtshoorn