Oorbluf in Melbourne

Die Universiteit van Melbourne in Australië is ’n sogenaamde “public research university”. Dit is in 1853 gestig, is die oudste universiteit in Victoria en twee­de oudste in Australië en baie bekend vir navorsing in allerlei velde – ook die bestuurswetenskappe. Hulle spog dat hul­le dié toonaangewende navorsings­instansie in Australië is en ’n wê­reldleier in opvoeding, onderrig en navorsings­uitnemendheid – en met die grootste aantal navorsingstudente in Australië. Sommer lekker windgat. Vir die mense wat nie weet nie, Melbourne is waar die Rebels-rugbyspan vandaan kom!

Ek was destyds by Tukkies baie betrokke by navorsing in en oor die motorvervaardigingsbedryf en was gedurig op soek na samewerkingsgeleenthede en navorsingsvennootskappe die wêreld oor. Dit is al ’n wyle gelede, maar in die akademie was die ongeskrewe reël: “publish or perish”.

Publikasies is beskou as die maatstaf van navorsingsuitsette en het tot ’n substansiële mate die subsidie bepaal wat die staat aan tersiëre instellings betaal het. Reg of verkeerd, dis soos dit was en ek vermoed steeds is! Daar was gevolglik kwaai druk op reeds besige doserende personeel om ook baie tyd aan navorsing te spandeer en publikasies die lig te laat sien. Ek het ’n paar die lig laat sien, maar dit was werklik nie my sterk punt nie!

Ek het ’n ander, baie meer aantreklike- en uitdagende opdrag gehad. Ek moes onder andere probeer om prominente spelers en vervaardigers in die motorindustrie te oortuig om geld aan plaaslike navorsing en dus nagraadse opleiding te spandeer. Nie altyd so maklik nie. Om die plaaslike navorsing internasionale geloofwaardigheid te gee moes ons probeer om met akademici oor die lengte en breedte van die aarde saam te werk. Die nadeel hiervan was dat die spul daar anderkant die water maar suinig is om in ’n universiteit in Afrika te investeer, maar die voordeel was dat Romana en ek die wêreld plat gereis het om allerlei geleenthede by te woon, universiteite te besoek en te probeer om samewer-kingsooreenkomste te smee. So is ons ook Australië toe – Melbourne toe…

By Suid-Afrikaanse universiteite is die groepering en verdeling van die bestuurswetenskappe ietwat anders as in Australië. By ons word ’n magdom vakdissiplines wat deel uitmaak van die bestuurswetenskappe onder die dekmantel van Bedryfsingenieurswese bedryf en aangebied – veral die meer kwantitatiewe en tegniese onderwerpe. In daardie stadium kon ek geen universiteit daar opspoor wat Bedryfsingenieurswese as ’n alleenstaande akade­miese dissipline aanbied nie. Ten minste was ons in Suid-Afrika hulle een voor hiermee!

Na ’n swetterjoel e-posse is alles gereël en in plek en het ek ’n afspraak by ’n professor in hul Fakulteit Eko-nomiese Wetenskappe. Die vakke wat hulle aanbied, stem deels ooreen met ons plaaslike kurrikulum en ek en die ou (ek kan gelukkig nie sy naam onthou nie) stem ooreen dat daar baie “common ground” is en dat ons mekaar wedersyds kan ondersteun as eksterne eksaminators – en ook as vennote met navorsing in veral die veld van logistiek, wat wonderlike en hoogs tegniese geleenthede bied vir navorsing en nagraadse studies.

Nou ja, ons is uiteindelik daar en op pad na my afspraak. Die kampus is groot en wyd verspreid; én baie groot. Die Parkville-kampus is die primêre kampus. Groot beteken eetplekke, gimnasiums, 12 biblioteke, winkels, ’n klein supermark en selfs soms ’n boeremark! Die omgewing is baie groen met groot bome en pragtige groen grasperke.

Ek kry die regte gebou, gaan op met die hysbak na die vyfde vloer en begin soek. My afspraak is 14:00 en ons is, soos dit goeie Suid-Afrikaners betaam, so 10 minute vroeg. Ek is half verlig, maar die gange is verlate, al die deure is toe en die plek is somber en doodstil. Ek kry die regte kantoor met die ou se naam op ’n klein kaartjie op die deur vasgeplak. Sukses.

Ek klop… Niks. Ag nee! Ek klop weer … en weer niks nie. Teleurstelling begin verander in irritasie en ek klop ’n derde maal. Ek voel aan die deur en dit gaan sowaar oop – en daar sit meneer agter sy lessenaar, uitdrukkingloos met sy pikswart ogies en deurmekaar hare met ’n koffiebeker voor hom. Tipies boerseun maak ek of alles reg is en groet ewe geesdriftig en sê ek is bly om hier te wees, halfpad om die wêreld en dit is so gaaf om hom te ontmoet!

Hy toon geen reaksie nie en ek kry sulke beelde van die empatie wat ’n pofadder op ons plaas gewys het. Ek bly stil en hy ook. Na wat soos ’n ewigheid voel, haak hy af met: “I am having my lunch, please wait outside”.

Net dit.

Ek word nie sommer onkant gevang nie, maar die wind is heeltemal uit my seile! Ek draai om, gaan uit, maak die deur toe en moet diep asemhaal.

My uiteindelike bespreking met hom was omtrent vyf minute lank en ek is daar weg, sommer lekker opgewen met die wete dit was ’n hopelose mors van tyd. Halfpad om die wêreld, met ’n afspraak en al. Ek het sommer op pad uit alles wat ek by hom gekry het, in die asblik voor die hysbak gegooi.

Ek hoop hy het dit gesien.

Toe ek by die gebou uitstap, kon ek net breed glimlag en dink hoe radikaal anders Suid-Afrikaners – my mense – in so ’n situasie sou optree!