Vooruitsigte verander handomkeer

Wêreldvooruitsigte en vooruitsigte vir Suid-Afrika het van Januarie vanjaar tot nou weens die Covid-19-pandemie hand­omkeer verander, het Theo Venter, politieke en beleidskundige aan die Noodwes Universiteit op Potchefstroom, Vrydag by die jaarvergadering van Klein Karoo Eiendoms Beperk (KKEB) op Oudtshoorn gesê.

In Januarie vanjaar het die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) gesê die krisisse wat vir die wêreld voorlê is oorwegend omgewingsverwant soos onder meer klimaatsverandering.

“Die vier voorafgaande jare het die WEF geen ekonomiese krisisse verwag nie. Teen April vanjaar het dit heeltemal verander.

“Teen Junie/Julie het die WEF oorwegend ekonomiese krisisse voorsien. Die vrees vir ’n resessie het op 58% gestaan en die vrees vir werkloosheid op 43%. Daar word ook gevrees vir nog ’n pandemie,” het Venter gesê.

“Niemand het dit voorsien nie.”

Hy het verwys na Suid-Afrika wat een van 38 lande in die wêreld is wat reeds ekonomiese probleme gehad het voordat die Covid-19-pandemie begin het. Dit sluit, buiten China, die Brics-lande in. In Suid-Afrika is daar baie onse­kerheid, oor onder meer die onteieningswet wat nog nie gefinaliseer is nie, die Zondo-kommissie wat sy verslag in April volgende jaar moet lewer en die politiek. Al hier­die faktore dra daartoe by dat Suid-Afrika se toekoms “volatiel, onseker, kompleks en tweeslagtig” is.

Volgens Venter val twee goed hom op oor die Suid-Afrikaaanse politiek.

Daar is ’n goeie (welwillende) siklus. Dit is mense wat wil saamwerk en wil hê dinge in die land moet werk met die hele land se belang in gedagte het.

En dan is daar ’n kwaadwillige (“vicious”) siklus. Dit is mense wat wil verdeel en die land uitmekaar wil laat spat. Hulle het eie belang in gedagte ten koste van die land, ’n klomp staatskapers. Pres Cyril Ramaphosa probeer die land oordruk van ’n slegte siklus na ’n goeie siklus. Hy is besig om die suurstof van die klomp skelms weg te vat, het hy gesê. Daar is egter baie rolspelers, soos Ace Magashule, wat dit vir hom moeilik maak.

Venter het verwys na drie moontlikhede vir Suid-Afrika se toekoms: ’n kronkelpadscenario waar die politiek ’n bietjie regkom, maar nie die ekonomie nie; ’n skeefloopscenario waar die ekonomie en die politiek nie regkom nie, en die land val uitmekaar uit; en die smalpadscenario waar die ekonomie stadig maar seker regkom, maar die politiek kom nie reg nie.

Volgens Venter kan die volgende gedoen word om te oorleef in ons wêreld van vandag:

• Innoveer en skep jou eie toekoms;

• Voer planne uit met spoed en buigsaamheid – dogma en ideologie is jou vyande;

• Identifiseer die ankers in die lewe;

• Soek vir eenvoud om kompleksiteit te hanteer;

• Samewerking – alleen is jy magteloos;

• Hou aan met leer – hou by en ontwikkel; en

• Ontwikkel ’n oorlewingsdrang – belê in veerkragtigheid.

Ter afsluiting het Venter as volg opgesom:

• Covid-19 het die reeds verswakte Suid-Afri-kaanse ekonomie nog swakker gemaak;

• Krisisse skep nuwe geleenthede, en landbou en mynbou baat baie by die pandemie;

• Covid-19 het aan Ramaphosa die geleentheid gegee om intern te konsolideer;

• Die NVG het ná 10 jaar se vernietiging onder Zuma weer sy werk begin doen;

• Covid-19 het baie energie uit die verandering van Klousule 25 van die Grondwet gehaal. Nuwe onteieningswet teen April 2021 in werking?

• Regering neem landelike veiligheid nou ernstiger op. Baie skade is egter reeds gedoen;

• Plaaslike regering het dramaties verswak en die regering se fokus op die Distrikontwikkelingsmodel (DOM) as oplossing skep meer vrae as antwoorde; en

• Covid-19 het ons almal teruggeneem na zero. Die wêreld gaan anders lyk in die post-Covid-era.