Briewe

Reaksie op skrywes oor oorde en pandemies

Met verwysing na mnr Deon Haasbroek se skrywe van 26 November rakende dr Wessel Vermeulen se artikel van 5 November.

Rakende die volgende: “Skielik, son­der dat Ouma dit verstaan, verdwyn die besoeke”: Persone in hul laaste lewens­jare is dikwels nie meer helder van verstand nie, dus kan hulle nie ’n skielike afwesigheid verstaan nie. Dié skie­like breek van ’n verwagte besoek is dus traumaties … eintlik hartverskeurend.

Om vir ’n bejaarde met foto’s of video’s op ’n selfoon te troos, is nie ’n oplossing nie. Elektronika is ’n jongmensding… Ouer vingers en ouer oë en ’n minder flinke verstand kan dit nie werklik verstaan en waardeer nie!

Rakende “die rustig sterf met familie…”: Ek lê die skuld ook voor regeringsbesluite… Besluite wat toe afge­dwing is op en verder gevoer is by oorde, ens.

Talle, talle persone in hospitale en aftreeoorde het gesterf sonder ’n laaste fisieke kontak met ’n eggenoot of kind! Ongeag hoe die familie iets probeer reël het! Pynlik!

Die probleem van “onprofessionele optrede”: As jy oud en swak en al “effe dommer” is as wat jy 20 jaar gelede was, toe jy die voorsitter van die VLV was of die skoolhoof, EN jy is alleen in jou kamer, waar kry jy die moed om ’n klagtetjie te opper? Dalk is ’n vermoei­de helper ook al effe moeg vir jou gebewe en jou doofheid… As jy nou nog kla ook! Wat dan?

Ek het nie ’n oplossing vir bogenoemde nie; ek weet nie hoe ’n pandemie hanteer moet word nie!

Dalk minder wette en makliker vloei van idees en baie deernis? Ongelukkig was dit so… oral het die swaard van (regerings?)-wette rakende afsondering en sosialisering oor mense se koppe gehang! En inwoners van oorde, en pasiënte in hospitale en personeel by bg instansies móés blindelings gehoorsaam wees! En dit in ’n demokratiese land! Pynlik!
– Engela Olivier, Oudtshoorn

Skoon Oudtshoorn?

Ek woon al jare op Oudtshoorn! Ek neem onlangs ’n pakkie vir iemand in Noordeinde, en glo my, daar het trane in my oë gekom toe ek so om my kyk en sien hoe ons dorp agteruit gegaan het! Dis hartseer! Van Bloemstraat se sy­paadjie nie eers gepraat nie – na ’n Donderdag se sakkrappers! En die rivier word gebruik vir dit wat “hulle” nie wil hê nie.

Inwoners wat weke, maande en jare aanbou, se stene en sand word op die sypaadjies geberg en loop oor tot in die strate. En die ergste van alles: Bourommel wat net mooi oorkant die huise gegooi word – ek praat veral van Parkweg.

In die verlede sou geen inwoner so iets toegelaat word nie – jy moes dit in jou eie erf laat af- en oplaai! Mense ons moet ’n voorbeeld stel! Die tyd het aangebreek dat ons beboet word!
– T Ungerer, Oudtshoorn

Waar daar ’n wil is!

Philip Jeal van De Rust het Saterdag 21 November die hele Bushman’s Run & Walk oor 5 km geloop – wat ’n voorbeeld dat waar daar ’n wil is, word nie moed opgegee nie! Dié stap en hardloop vind elke Saterdag om 07:00 plaas by Bushman’s African Dining op die N12 na De Rust. Foto: Johann Coetzer