Oom Olifant jou reuse dier…

Deur Johan Strasheim

Ons dogter Esedra het van kleintyd af al ’n sterk aanleg vir taal, spelling en enige iets met betrekking tot spraak en kommunikasie gehad. Geen wonder dat sy later as spraakterapeut en oudioloog gekwalifiseer het nie. Na die gebruiklike draaie deur gemeenskapsdiens en privaatpraktyk het sy heel gepas ’n loopbaan in die akademie ingeslaan. Sy het haar doktorsgraad verwerf met ’n proefskrif waarvan ek – haar pa met sy eie stukkie loopbaan in die akademie – met intense fokus en baie konsentrasie die titel kon lees, maar geen idee het wat dit beteken het nie. Jammer my kind, maar dit was bo jou pa se vuurmaakplek!

Dit is een van daardie verrykende gewaarwordinge in die lewe wanneer jy agterkom jou kinders weet eindeloos meer as jy van sekere dinge, gevorderde, professionele dinge. Vir so lank was jy as ouer maar die “alwetende” in die spannetjie, maar soos alles kom dit ook mettertyd tot ’n einde.

Maar dit is nie wat ek wil vertel nie. Sy was sommer nog ’n klein kleutertjie toe sy die rympie van “Oom Olifant” geleer het. Sy was so klein, sy kon net-net oor die rand van die bed kyk terwyl sy baie trots die rympie op haar kortpadmanier opsê. Die rympie gaan eintlik so: “Oom Olifant jou reuse dier, die mense lag vir hul plesier. Want waar het jy al ooit gehoor, van ’n stertjie van agter en ’n stertjie van voor.” Haar kortpad-weergawe was iets anders … “Oom Olifant zou zeuse dier, têtjie voor têtjie agter” waarna sy en ons te lekker lag vir haar aangepaste weergawe!

Ek was in daardie fase van my lewe op ’n heel ander vlak ook by olifante betrokke!

Dit was daar in die middel 1980’s iewers en Suid-Afrika se krygtuigbedryf was in volle swang met menige jong ingenieurs wat deelgeneem het in honderde projekte, baie waarmee Krygkor en sy filiale ’n leidende rol internasionaal gespeel het. Ek was bevoorreg om by twee hiervan betrokke te raak – ’n produksiestelsel by die vervaardiging van lug tot lug missiele en ’n ander wat deur die Universiteit behartig is. Prof Pierre Haarhoff was destyds ’n direkteur van die sg Laboratorium vir Gevorderde Ingenieurswese (LGI) en ’n professor in Meganiese Ingenieurswese by Tukkies. Loshande een van die slimste, intelligentste mense wat ek nog ooit mee kontak gehad het. ’n Formidabele man, briljant in alle opsigte – wat veral naam gemaak het met sy werk in die uraanver- rykingsprosesse by die destydse AEK en Raad op Atoomkrag.

Verrassend genoeg het hy ook kort stories geskryf en die Eugene Marais prys vir letterkunde in 1989 vir Uit ’n ander wêreld ontvang. Ek sal sy krom liggaamshouding en sy pyp in die een hand nie sommer vergeet nie. Hy het ’n blywende, goeie indruk op menige jong ingenieurs soos ek gelaat.

Die SA Weermag via Krygkor het daar in 1983 begin om die Olifant tenks op te gradeer met nuwe enjins asook ’n variant van die Suid-Afrikaanse 105 mm kanon. Hulle is in ongeveer 1985 in diens gestel as ek reg onthou en het ’n klein bietjie aksie in die grensoorlog en Angola gesien.
So gebeur dit toe dat ons paaie kruis. Hy – as deel van die LGI – stel komplekse wiskundige modelle saam waarmee die dinamiese eienskappe van die destydse olifant tenk se kanon nageboots kon word om te bereken hoeveel die loop deflekteer wanneer ’n projektiel daardeur geskiet word en die invloed van ’n groot aantal ontwerpparameters bepaal kon word. Ek moes die spul gevorderde wiskunde in ’n rekenaarprogram “vertaal” sodat die eksperimente uitgevoer kon word.

Ek kan natuurlik nie meer die details onthou nie, behalwe dat die wiskunde waarmee prof Haarhoff vorendag gekom het, nie ligte musiek was nie. Ek was egter lekker “tegnologies fiks” en het die klein stukkie deelname in die projek nogal geniet.

In die geheime omgewing wat so tipies was met sulke projekte destyds, het ek natuurlik nooit gehoor hoe die projek uiteindelik afgeloop het nie!

Prof Haarhoff is onverwags oorlede in Februarie 1990 – ’n baie hartseer dag vir almal wat hom geken het. Hy is na sy dood die Hendrik Verwoerd prys toegeken vir sy uitnemende werk in die akademie, wetenskaplike navorsing en letterkunde publikasies sowel as sy werk en bydrae tot ontwikkeling van die uraanverrykingsproses.

So hartseer soos dit is, is al die leidende wêreldklas tegnologie en uitnemende semi-staatsondernemings wat talle briljante mense soos Pierre Haarhoff en sy kollegas vir Suid-Afrika tot stand gebring het sedertdien grootliks verswelg deur ’n gulsige orgie van gierigheid, korrupsie en ongebreidelde onbekwaamheid.

So is alles stelselmatig tot niet weens die mensgemaakte kanker en oorboordgooi van dissipline en etiek. Die staatsondernemings is in die grond in bestuur en besteel, letterlik vermink en afgetakel tot bakhand bedelaarstatus om die vernedering van die onvermydelike bankrotskap met reuse finansiële reddingsboeie – wat die norm geword het – bietjie verder uit te stel. Dit is werklik hartseer. (Deur Johan Strasheim)