Kingdom News: ’n Voorreg om dankie te sê

Lugfoto: Morne Jonker Ander foto’s: Angelique Erasmus

Presies ’n jaar gelede het die Kammanassiedam op 5,5% gestaan. Daar het ’n groot droogte oor die Klein Karoo geheers, en hulp van organisasies wat voer en selfs kruideniersware ingesluit het moes aan boere uitgedeel word.

Vir baie boere het dit selfs beteken dat hulle nie eers krag in hul huise gehad het nie, omdat hul nie Eskom-rekeninge kon betaal nie.

Vanjaar het die seisoen egter begin draai, en dit het begin reën. Reën wat vir baie, nie net boere in die omgewing nie, hoop gegee het.

In Augustus vanjaar is die hekke van die Kammanassiedam oopgemaak vir inwoners, en die geleentheid is gebruik om ’n dankseggingsdiens te doen. Die dam staan toe reeds op 72%.

Slegs 2 maande later loop die Kammanassie oor, en het inwoners en boere besluit dat daar daad-werklik ’n viering van die geleentheid gemaak moet word.

Op Vrydag 13 Oktober het ’n groep bymekaar gekom op die damwal – oud en jonk. Ranger Grebe het Psalm 23 voorgelees as belofte, en daar is nagmaal gehou op die wal.

Wit duiwe is ook vrygelaat om die oorloop van die Kammanassiedam te vier.

Daarna het ’n brawe groepie die water ingevaar, en die koue water aangedurf. Die dam loop nie net oor nie, maar staan tans op 100,5%.

Die foto’s spreek boekdele van die vreugde wat Vrydag ervaar is.

PSALM 23
Die Here is my herder.
’n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.
Hy laat my rus in groen weivelde.
Hy bring my by waters waar daar vrede is.
Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van Sy Naam.
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.
U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk.
U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.
U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.