Onse ou dorpie se padgebruikers…

‘Dalk moet die opskrif eerder lees: Padmisbruikers,’ skryf Jos de Villiers van Oudtshoorn oor hierdie
bydrae van hom. Lees gerus en glimlag saam oor die ‘molle’ en ‘slakke’ en ‘versamelvoëls’ op die paaie.

“Gemiddeld 17 botsings per week in Oudtshoorn,” sê Die Hoorn op 25 April 2019. Dit verbaas my nie in die minste nie; inteendeel, ek sou veel meer verwag het. Maar bitter min ongelukke word mos aangemeld, dus is die 17 net die puntjie van die spreekwoordelike ysberg.

Dalk was dit maar altyd so en in my dolle vaart om ’n bestaan te maak, het dit net by my verbygegaan.

Vandat ek egter afgetree is en ek meer tyd het om te kyk wat rondom my gebeur, kom ek agter Oudtshoorn se padgebruikers is ’n vreemde spesie wat mens nie sommer ligtelik kan opvat nie.

Heel moontlik is die volgende paar dier-/voëlsoorte ook bekend aan die leser:

Spesie 1: Die blindemol
Dié spesie beskou stoptekens as toe­geetekens. Indien jy, wat voorrang het, net effens te stadig aankom na sy smaak, of as jy nog verder as twee karlengtes voor die kruising is, word daar net eenvoudig voor jou ingedraai, met die gevolg dat jy met rokende bande rem aanslaan om te verhoed dat jy van agter teen dié dier vasry. Hy maak dan geen aanstaltes om vinniger voor jou uit te begin beweeg nie en kuier heel rustig voort asof hy jou nooit sien aankom het of enigsins bewus van jou hier agter hom is nie.

As mens egter dan net liggies op jou toeter te kenne te gee dat jy ietwat gebelgd voel oor sulke brutale gedrag, sien jy hy was die heeltyd deeglik bewus van jou. Jou protes is ook beslis ’n fout, tensy jy bereid is om allerhande nie-sulke-vredeliewende gebare en veel harder toetergeluide van diesulkes te verdra sonder ’n onmiddelike hoofpyn of iets ergers.

’n Naby familielid van bogenoemde is natuurlik ons toneelspeel-blindemol wat, wanneer hy so ietwat na jou by ’n vierrigtingstop-kruising aankom, maak asof hy jou glad nie sien nie, nie stilhou nie en eenvoudig net aanry terwyl hy met groot konsentrasie in die teenoor­gestelde rigting kyk.

Spesie 2: Die musikale slak
Nog ’n vreemde Oudtshoorn-onge­werwelde is die voertuig, met gewoonlik slegs die bestuurder daarin, wat, ver­- al Vrydagmiddae en beslis Saterdag­­oggende NET in Hoogstraat op en af beweeg teen ’n uiters lui slakkepas.

As ek sê “beweeg”, bedoel ek hoogstens 5 km per uur. Gewoonlik is al die ruite afgedraai en die klankstelsel, wat vermoedelik meer as die motor gekos het, op maksimum volume oopgedraai. Klassieke musiek vanuit hierdie oordrombarsers het ek nog nie waargeneem nie.

Die gebare van die bestuurder laat mens terugdink aan eertydse presidensiële optogte toe diegene dit nog sonder blouligkonfooie kon waag tussen hulle landsburgers. Duidelik ken ons slak ook elke voetganger op straat of minstens word dié indruk uiters effektief geskep, want ieder en elk word effens hovaardig maar tog vriendelik gegroet.

Spesie 3: Die (aan)kruipmol
Van molle gepraat; daar is nog ’n mol­spesie wat moontlik nog meer verdraagsaamheid verg as die voor-jou-indraai-variëteit, naamlik die aankruip­- mol.

Dié spesie stop wel by ’n stopteken maar altyd minstens ’n halwe motorlengte verby die wit streep tot feitlik binne jou ryvlak. Soos jy niksvermoedend nader aan hom kom, begin hy voetjie vir voetjie voor jou inkruip om woordeloos maar onomwonde te dreig: “As jy nie dadelik vinniger ry nie, gaan ek beslis voor jou indraai, jou patetiese trapsuutjies!”

As mens uit vrees vir ’n onvermydeli­ke botsing maar liewer dan stop en vir hom met ’n “ek-gee-op”-gesig beduie: “Ry dan tog maar, asseblief”, kyk hy jou minagtend aan, en trek met ’n oorwin­naarsblik weg – natuurlik sonder enige teken van dank of waardering. Kruipmolle bedank of waardeer nooit hul slagoffers nie!

Spesie 4: Die sosiale versamelvoël
Eintlik hoort hulle mos in die Sentraal-Karoo op telefoonpale, ens, maar helaas, hulle verskyn sowaar nou ook hier by ons. Dis nou diesulkes wat net eenvoudig skielik voor jou stop sonder enige teken of waarskuwing ten einde ’n karvol passasiers op- of af te laai, terwyl almal hom met die hand groet en hulle goeie wense hartlik teenoor me­kaar uitspreek. (Onnodig om te meld dat op daardie oomblik my eie wense alles behalwe goeies is.)

Spesie 5: Die rybaan(ver)sperwer
Dié spesie gebruik die linkerrybaan om styf teen ’n geparkeerde voertuig stil te hou (maar steeds so dat mens nie kan verbykom teen die aankomende verkeer nie) en rustig daar vir sy gade te sit en wag om haar weeklikse inkopies te voltooi of geld by die bank se kitsbank te gaan trek – of beide.

Hy lees sy koerant aandagtig om sodoende te verhoed dat hy die blikke van verguising hoef te sien van diegene wat op die ou end wel slaag om by hom verby te kan skuur.

Spesie 6: Die twee(gat)baanjakkals
Dis die oulike diertjie wat, soos julle na mekaar toe aankom, bogenoemde dub­belparkeerder net eenvoudig verby­steek in plaas van (soos die regulasie sê en goeie maniere betaam) te wag totdat jy wat voorrang het, eers kan verby­kom. Jy word terselfdertyd aangegluur met ’n hovaardige blik wat sê: “En wat kan jy hieraan doen, jou verpotlike ou mannetjie!”

Spesie 7: Die psigopatiese (s)ot
Dis die (pad)vark wat grynslaggend vinniger begin ry om te kyk of hy jou kan omry terwyl jy vreesbevange uit die pad probeer spring by ’n duidelik gemerkte voetgangeroorgang. Hoe ouer of meer gestremd die stomme voetganger (lees slagoffer) is, hoe meer genot put hy uit sy aksie. Jong voetgangers ignoreer hy; hulle bied weinig plesier want hulle is nog hopeloos te rats.

Hier moet ek darem ’n hoflike taxi-bestuurder uitsonder wat onlangs by ’n voetoorgang in Parkweg, voor die hospitaal, vir my gestop en vriendelik gewys het dat ek maar kan oorstap.

Ja, daar is oral in die wêreld die uitsonderings…

Nou beloof ek om geen melding te maak van ons voetgangers wat staan en wag terwyl die verkeerslig vir hul groen is en dan oorsteek sodra die lig rooi slaan nie. Ook nie van verkeersmense wat mens net sien verbyry in munisipale voetuie nie. Klaarblyklik word hulle glad nie toegelaat om te voet op straat te verskyn om iets te doen in verband met bogenoemde “diere” nie. (Maar dis darem net hoorsê.)

Na al dié gemoedsversteurders sal dit seker nie regverdig wees as ek nie ’n moontlike oplossing aan die hand doen nie (Let wel, dit word gratis aangebied):
Haal diep asem – so vier of vyf keer, glimlag breed, lyk vriendelik, bejeën die diere met Die Liefde en suig ’n Rennie of twee. Dit doen wondere, kan ek waarborg! (en die grootste hiervan is die liefde)

Laastens moet ek bieg dat ek onlangs myself betrap dat ek by ’n stopteken in Buitekantstraat voor ’n aankomende voertuig begin inkruip het – maar hy kon darem net so effens vin­niger probeer ry het; sê so 80 of 90…