Week van sneeu, stof en rukwinde

Slagoffer van wind
Rukwinde die week op Oudtshoorn het nie net stofwolke oor die dorp gewaai en takke afgeruk nie, maar ook soos hier in die tuin van Elisabeth Groene­wald in Hoogstraat ’n boom omgewaai. Volgens Groenewald het die boom reeds as ge­volg van die droogte gevrek en het hulle op die punt gestaan om dit uit te haal. “Gelukkig het geen mens of dier seer­gekry toe dit geval het nie,” sê sy.  Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
RUKWINDE en sneeu die afgelope week het gewys dat die winter nog ver van klaar is in die Klein Karoo.
Behalwe vir die sneeu en koue, is waarskuwings van erge wind en brandgevaar ook Maandag deur die SA Weerdiens uitgereik.

Hoewel die reën wat elders in die Wes-Kaap geval het, nie die Klein Karoo gehaal het nie en slegs sowat 3 mm sedert die naweek geval het, het goeie sneeu op die Swartberge geval, wat hopelik ’n bydrae kan lewer tot die vlak van die Raubenheimerdam, Oudtshoorn se drinkwaterdam.