Ek het vanmôre weer diep nagedink oor twee belangrike spreekwoorde: Jy kan die hond nie die blaf belet nie, menende, jy kan die mens nie belet om te praat nie.
Die ander een lui soos volg (let wel dit is ’n Engelse spreekwoord): Silence is tacit consent. Die stilswygende massa is geneig om hulle hieraan skuldig te maak. Hulle sê gewoonlik niks oor die dinge wat verkeerd loop in ons dorpie en ons woonbuurte nie. Hulle stilswye word gewoonlik gesien as instemming.
Natuurlik moet mense toegelaat word om te praat. Vir te lank het ons stilgebly oor die verkeerde.
Kyk byvoorbeeld na die volgende vergrype: mense steel helder oordag traliehekke by ons kerke, heinings en rolle draad, veiligheidshekke en verkoop dit vir skroot. Wie praat daaroor?
Klein kindertjies en grootmense vloek liederlik en wat doen ons? Wie vermaan hulle?
Kinders bank openlik hul klasse by hul skole en lê onder bome tot die skole uitkom. Hoekom praat ons nie oor hierdie laksheid nie?
Tienerseuns en -meisies vry openlik in die publiek; hoekom sê ons niks nie?
Hoekom sê ons niks oor rommelstrooiery en korrupsie nie?
Onthou, ’n mens mag nooit verkeerde dinge goedpraat nie. As ons daaroor stilbly, is ons medepligtig.
Ek wil vandag praat oor twee sake wat op ons dorp skeefgeloop het in die verlede. Nee, eintlik drie dinge.
- Die vyf begraafplase wat in Suikerbult opgegrawe is
Die oorskot van sommige van hierdie persone is in een massagraf in die Oudtshoorn begraafplaas begrawe. Hier-in het die Oudtshoorn munisipaliteit ’n aandeel gehad. Niemand praat van die R40 000 wat die Attakwahuis van die munisipaliteit gekry het nie. Hulle, die Attakwa Khoisan-stamhuis, het ook grond gekry van die munisipaliteit in Suikerbult. Hulle het ’n landmeter gekry om die penne in te slaan om die erf af te baken, want hulle wou ’n museum in Suikerbult bou. Die erfnommer, die afskrif van die kwitansie aan die landmeter is op rekord. Ook die geld vir die plan wat geteken is. Die res van die R40 000 van die munisipaliteit is vandag nog in hulle besit. Dit was lank voor die vestiging van Smartie Town. Dit is waaroor ek vandag praat (“blaf”). - Die sloping van die Coronation Memorial Tehuis in Asstraat.
Dit was ’n gebou wat aan Oudtshoorn se mense geskenk is deur die Rooikruis. Ons het die gebou gebruik as ’n hostel vir Kairos se kinders, gedurende die turbulente tye toe Oudts-hoorn die “struggle” oor ongereg-tigheid beleef het. Dit was eers die skool en toe later die koshuis, toe ons na beter fasiliteite beweeg het. Ons het ’n stawende bewys gehad. Die inskripsie op ’n marmersteen het soos volg gelui: To the people of Oudtshoorn from the people of London.
Die sloping van die gebou is deur die raad goedgekeur met’n voorsteller en ’n sekondant. Die groot vraag – ek vra dit sonder benadeling van regte: Is dit op ’n wettige vergadering gedoen en wie was almal teenwoordig? Is daar ooit ruimte gelaat vir free prior and informed consent deur Oudtshoorn se mense? - Die kliplokasie
Met die totstandkoming van die kliplokasie in 1998, het die stamhoof en die destydse bestuur en lede betrokke geraak by verskeie projekte, onder andere die gedwonge verskuiwings op Suikerbult met die gedagte om dit uit te stal in die voorgenome museumprojek. Die ander projek was die Kliplokasie, waar daar ’n gebrek was aan skoon, kiemvrye drinkwater. Ons het ’n dokumentêre film geskiet oor hierdie kul- tuurhistoriese projek, nog lank voordat die Oudtshoorn Munisipaliteit daar betrokke geraak het. In daardie stadium het die inwoners van hierdie nedersetting water uit ’n nabygeleë rivier aangery met donkiekarretjies, wat soos waterkarre gemaak is (’n 44 gelling- drom op die onderstel). Die water uit die rivier was nie altyd skoon en kiemvry nie. Ons het foto’s wat die betrokkenheid van die Attakwa-huis kan staaf.
En nou sal daar mense wees wat sal vra: Nou waarom blaf die groot hond nou eers? Kom ons antwoord, omdat niemand uit die publiek oor Boesmans en Hottentotdeelname wou praat nie.
Die Attakwa Khoisan Stamhuis se goedbedoelde betrokkenheid is in die verlede misken. Vandag misken die munisipaliteit nog steeds die hier wees van inheemse groepe.
Toe ek vanmôre deur die ou foto’s en koerantuitknipsels in my plakboek blaai, toe kom ek af op ’n koerantartikel in die Oudtshoorn Courant, Vrydag 3 September 2004. Die storie het gegaan oor die Kliplokasie en die meervaller van R1,3 miljoen van die Lotto se Nasionale Bewaringsdistribusie-agentskap.
Wat my getref het in die berig, was die volgende aanhaling in die tweede paragraaf: Die Oudtshoorn munisipaliteit het nie net die behoefte aan ’n lewenstandaard vir die inwoners van die Kliplokasie raakgesien nie, maar ook die potensiaal van ’n ekstra inkomste daar geïdentifiseer en toe aansoek gedoen by die Lotto vir befondsing.
Op die foto langs die berig staan twee raadslede en mnr Thomas Fortuin, waarin hy hulle bedank vir hul bydrae tot die moontlikmaking van die sken-king van R1,3 miljoen van die Lotto om die woongebied in ’n toerismebesienswaardigheid te omskep.
Die opgradering het wel plaasgevind en dit is ’n feit soos ’n koei dat die Kliphuise gebou is volgens ’n tradisionele boustyl met Bokkeveld-skalie – klip wat in die gebied gemyn word.
Van al die mooi beloftes in die tweede paragraaf van die berig het tot op datum niks van gekom nie. Nog minder van die ideaal van ’n toerismebesienswaardigheid en die bekendstelling van dié kulturele erfenis aan oorsese toeriste. Op grond van die beloftes wat op niks uitgeloop het, mag ons nooit die hond die blaf nie belet nie.