Oudtshoorniete vertel dorp se stories in Op hierie dag

Foto’s uit ’n repetisie vir Op hierie dag waarin Oudtshoorniete die verhaal van die dorp se mense vertel. (Foto’s verskaf.)

OP hierie dag, ’n teaterproduksie wat lewe gekry het uit ’n opwindende “terugblik”-projek wat handel oor die Oudtshoorn-omgewing se ongeskrewe en soms onvertelde geskiedenis, gaan vanjaar nie net gehore by die KKNK vermaak nie, maar ­Oudtshoorn se ongesiene talent tentoonstel.

Die produksie is die geesteskind van die visuele kunstenaar Vaughn Sadie en teatermaker Neil Coppen, en spruit uit die Karoo Kaarte-projek waartydens meer as 40 onderhoude met inwoners van die dorp gevoer is. Dit beslaan meer as 1000 bladsye se navorsing om byna vergete verhale wat deesdae nie meer van generasie tot generasie oorgedra word nie, uit te beeld.

Karoo Kaarte vorm ook vanjaar die hart van die KKNK, en buiten die teaterproduksie sluit dit ­kunsuitstallings, openbare muurskilderye en ’n reeks tydskrifte – bekend as Zines – in. Terwyl Sadie homself slegs as die fasiliteerder van die projek, en ’n soort mentor beskryf, is dit Coppen wat sy jare se ervaring in die teaterbedryf na Op hierie dag bring.

Die naam, Karoo Kaarte, is volgens Sadie ’n sinspeling op die dubbele betekenis van die woord “kaarte” in ’n Oudtshoorn-konteks. Dit verwys nie net na kaarte wat strate of plekke aandui nie, maar ook na hoe die woord in die volksmond gebruik word. “Om kaarte te sny” verwys daarna om te kuier en stories te vertel.

Volgens ’n KKNK-skrywe oor Op hierie dag, word daar in wese in die produksie inderdaad “kaarte gesny” met die oorvertelling van lighartige sowel as ernstige stories. “Dit is ’n diep en treffende teaterreis wat as kringteater aangebied word met ’n uiteenlopende rolverdeling van professionele en opkomende akteurs, sangers en musikante van Oudtshoorn.”

Dit is hier waar tien Oudtshoorniete en die bekende aktrise Lida Botha die prentjie betree. Volgens Coppen is die Oudtshoorniete net so verantwoordelik vir die rigting waarin die produksie gaan as hy self. Hulle tree op as onder meer skrywers, regisseurs en akteurs. Hulle het saam aan konsepte gewerk en besluit watter stories om te vertel, en op watter manier.

Coppen vertel die produksie is oor sowat ses maande ontwikkel, met vele werksessies, onderhoude waarna geluister is, en laat nagte. Hy sê al wou hulle graag al die kragtige en “magic” stories vertel, hulle nie kan nie. “Die produksie is net ’n klein gedeelte van die ongelooflike stories wat ons gehoor het. Ons probeer mense se belangstelling in hierdie stories prikkel. Ons beoog om die projek en die produksie elke jaar aan te pak. Ons hoop dus dat daar kans sal wees om al die wonderlike stories te vertel,” sê hy. Hy sê hy hoop die projek sal in die toekoms groei, en dieper en ryker raak om Oudtshoorn se stories te vertel, hetsy gelukkig of moeilik. “Ons wil hiermee gesprekke uitlok, of minstens idees plant wat dit makliker sal maak om oor moeilike kwessies te praat, maar ook om bewustheid oor Oudtshoorn se geskiedenis te skep.”

Volgens Coppen is Op hierie dag ’n samestelling van verskillende stories wat op ’n dramatiese manier verbind word – baie soos die collage waarop Karoo Kaarte self fokus.

Die Hoorn het tydens ’n repetisie van die produksie by die Toekomsrus Gemeenskapsaal inge-loer om met van die betrokke Oudts­hoorniete te gesels oor Op hierie dag.

Leach van der Westhuizen (28), ’n onderwyser op Oudtshoorn, het betrokke geraak deur oudisies wat by die skool gehou is. “Vir my is dit baie belangrik dat Oudtshoorn en die KKNK nie net ’n platform is vir ander se stories nie, maar ook vir Oudtshoorn se stories en dat hierdie stories deur die dorp se mense vertel kan word. Dis great dat ons ons eie mense kan gebruik. Daar is reeds ’n paar jongelinge wat deur dié produksie waardevolle ondervinding opdoen om in die teaterwêreld in te beweeg,” sê hy. Hy hoop dié “fabriek van kunstenaars” sal voortgaan, en dat dit Oudtshoorn se kreatiewe mense nader aan mekaar sal bring.

Volgens Theo (oom Japsnoet) Witbooi (31), ’n Afrikaanse rymkletser, skrywer en digter, het hy Coppen ontmoet by ’n onlangse KKNK Teksmark. “Op hierie dag is soos ’n droom wat waar geword het vir ons. As ek om my kyk na almal wat deel van die projek is, is dit almal mense met wie ek voorheen saamgewerk het. Ons het altyd gepleit vir ’n kans om vir ons mense te wys wat ons kan doen. Dit is as’t ware ’n droom wat ons uitleef.”

Hy sê uit die professionele werksomgewing waarin hulle nou werk, het hulle baie geleer. “Ons kom van die straat af. Ons het op straathoeke ons musiek gemaak, en uit ons eie sakke produksies op die planke gebring vir onse mense. Om dié te kan doen deur die Kunstefees is so mooi, en ek sien uit na wat vorentoe gaan gebeur. Ek is gretig om wat ek hier leer te deel met ander, jonk en oud.”

Hy bieg die produksie het die afgelope ses maande sy lewe oorheers, “maar dit is vir my baie verrykend. My perspektief oor skryf het baie verbreed. Daar is nie so ding soos ‘skrywersblok’ nie. Al wat ’n mens moet doen, is om om jou te kyk, en na mense te luister.”

Die teaterwêreld is nie vir Tiffany Saterdaght (28) vreemd nie. As digter, skrywer en dramaturg het sy al baie tyd op ’n verhoog deurgebring.

“Voorheen het ons nie gevoel ons kan hardop sê ‘ek is ’n dramaturg’ nie, want jy’t gevoel jy het nie die geld of hulpbronne of selfs geleenthede gehad wat ander teatermakers het nie. Hiermee het ek besef en geleer ek het die vermoë om ook te skryf en te skep, net soos ander. Hier het ek geleer om myself en my dorp krediet te gee. Ek het geleer om te glo in my vermoë, en om meer te waag.”

Volgens Saterdaght het sy baie gegroei deur die proses, en baie geleer. “Ek het geleer hoe om argie-we te gebruik, soos dié by die CP Nel Museum. Ek het visueel ook baie geleer – deur om na iets te kyk en uit dit ’n storie te ontwikkel. Ek het geleer mense dra kennis, dalk iemand aan wie jy jou nooit sou steur nie, en deur tyd te maak en na hulle te luister, kan iets wonderliks daaruit spruit.”

Saterdaght tree saam met Coppen as hoofskrywer op. “Ek het nooit gedink hierdie teaterstuk gaan so spesiaal wees nie. Dis so anders as hoe ek voorheen geskryf het – heeltemal uit my comfort zone uit. Ek het die geleentheid om my vermoeëns en talent te ontgin, en in die toekoms gaan dié ervaring as inspirasie dien.”

As akteur, rymkletser en digter speel Janion Kennedy (22) ’n hoofrol in die produksie. “Ek is baie dankbaar om deel van die produksie te wees. Toe ek die oudisie gedoen het, was ek eers nie seker wat ons sou doen nie, maar die manier hoe dit lewe gekry het, is fassinerend! Dis vir my wonderlik dat die produksie kwessies in ons lewens wat stilgehou is in gesprekke uitgelig word. Dit gee mense wat stilgemaak word deur ons ’n stem. Hierdie is hulle stories. Dis crazy!

“Die hele proses is baie fun’. Alles is so interessant. Ek leef myself in die mense se verhale in, en kry meer van ’n verstand oor hul stories en waardeur hulle gaan. Ek het baie geleer oor Oudtshoorn se geskiedenis – ek het altyd gewonder hoe dinge verander het tot waar die dorp vandag is.”

Denver “Danny B” Manuel (34), ’n rymkletser, musiekvervaardiger en skrywer, het betrokke geraak deur Witbooi en Saterdaght. Hy vertel hy het deur die proses uit ’n donker plek opgestaan.

“Ek moes uit my comfort zone as rymkletser stap en by ’n professionele dramaproduksie betrokke raak.

Op straat is ons almal maar ook net akteurs – een ou probeer soos ’n ander ou wees en jy gee voor. Dis waar ek was, maar hierdie was ’n baie verrykende proses en ek het baie geleer.

“Ek is rerig dankbaar God het my deur Tiffany en Japsnoet en Neil dié geleentheid gegee. Dis vir my rerig kwaai. Ek wil hê die gehoor moet Oudts­hoorn se geskiedenis raaksien. Daar is goed wat ek nie voorheen geweet het nie. Ek voel mense van Oudtshoorn en van elders moet ons geskiedenis leer ken.”

• Die produksie is tot 2 April daagliks te sien in die Toekomsrussaal. (Deur Stefan Skapie Goosen)