Ribbetjies met ’n uitsig

Spare Rib Special by Patat Restaurant

Die uitsig vanaf Patat Restaurant se stoep

DAAR is baie restaurante waarvan die ribbetjies iets is om oor huis toe te skryf, maar min wie se ribbetjies iets is om in ’n koerant oor te skryf. Patat Restaurant op die Swartberg Country Manor-landgoed in Matjiesrivier, is een vir ’n koerant!

Die 44 km-rit vanaf Oudtshoorn neem jou deur die skone Schoemanspoort tot aan die voete van die Swartberg, en dan op ‘n kronkel-kronkel deur fynbos en aalwynbegroeide voetheuwels. Kort voor die klim na die Swartbergpas begin, draai jy links na Matjiesrivier en besef jy dat jy nou in ’n ander wêreld is. Beeldskoon bly die enigste woord.

Slegs 4 km verder lê die Swartberg Country Manor aan jou regterkant en dit is juis waar jy afdraai om onder die koeltebome voor Patat Restaurant stil te hou. Binne staan groot tafels van Oregon-dennehout, sommige wat tot 12 mense kan akkomodeer, en deur glasdeure stap mens tot op ’n groot stoep met ’n asemrowende uitsig oor die Swartbergreeks.

Dit is hier waar jy kan terugsit, ontspan en Patat Restaurant se Spare Rib Special teen slegs R120 kan bestel. Hulle bied ook ’n omvattende wynlys van gekose Kaapse tafelwyne. Ons het op Zeven­wacht se heerlike droë Rosé besluit wat R130 gekos het.

Die halwe kilogram ribbetjies was murgsag en die marinade geurig, maar subtiel. Soveel restaurante gebruik marinades wat die smaak van jou ribbetjies heeltemal oorheers – nie Patat nie. Dit word bedien met kraakvars aartappelskyfies – handge­sny, bros buite en fluweelsag binne – en ’n pikante doopsous van onder andere Worchestersous, mosterdsaad en vyekonfyt. “Die res van die bestandele is ’n groot geheim en mag onder geen omstandighede genoem word nie” spot sjef Pierre Basson wat dié verruklike dis vir gaste voorberei.

Sjef Pierre is al 35 jaar lank professioneel in die koswêreld doenig en het onlangs van Kalifornië af teruggekeer na Suid-Afrika om sy kooktalent met die Klein Karoo te deel. Ander smaakvolle disse op sy spyskaart is sy unieke volstruisfilet-burger en ’n volstruiscarpaccio wat met roketslaai en parmesaankaas bedien word.

Patat Restaurant bedien ontbyt, middagete en aandete sewe dae van die week. Dit is noodsaaklik om ’n tafel te bespreek en ek raai ieder en elk aan om dit te doen. En beleef saam met die lekker ribbetjies ’n uitsig waaroor ’n miljoenêr net kan droom.

• Hierdie is nie ’n promosie-artikel nie en die verslaggewer het ten volle vir die ete betaal. (Deur Robert Koen)