De Rust, slegs ’n klipgooi van die fees

Foto: Willie Immelman

KUNS, kultuur, buitengewone eetplekke, natuurtonele wat jou laat snak na asem en inwoners wat jou verwelkom met die vriendelikste glimlag is almal aspekte van De Rust wat dit meer as die moeite werd maak om daar te stil te hou.

De Rust is net ’n kort entjie se ry vanaf Oudtshoorn, slegs 25 minute via die N12. Indien jy van Beaufort-Wes se rigting af Oudtshoorn toe ry, is hierdie prentjiemooi dorpie die eerste een wat jy binnekom ná die skilderagtige Meiringspoort.

Die dorpie het sy eie lang, eeue-oue geskiedenis, met argitektuur wat uit die vroeë 1900’s dateer. Die meeste van hier­­die geboue, gebou met modderbakstene of sandsteen en met dik mure en hoë plafonne, is reeds ouer as 120 jaar. Die ou geboue wat gedenkwaardighede is, val onder die beskerming van Heritage Oudts­hoorn Erfenis.

Daar is nie ’n tekort aan besiens­waar­dighede in en om De Rust nie: die Mei­ringspoort Waterval en meerminlegende, die Oudemuragie-pad, die Vergelegen-pad en die Swartberg-sirkelroete is maar net ’n handvol van wat besoekers kan geniet.

KKNK 2022
Tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat op 3 April eindig, kan besoekers aan De Rust ook Karoo-stories by die Schoemangalery, langs Pluim Eatery, geniet. As kunstenaars en visuele storie­vertellers word Sarel van Staden en Ma­ryna Cotton geïnspireer en gedryf deur die skeppende gebruik van lig – die spreek­woordelike verfkwas vir hul werk. Hul liefde vir Karoolandskappe en die maan en die sterre het gelei tot werk vir National Geographic, maar ook tot samewerking met Coenie de Villiers en Deon Meyer vir Karoo Suite 2: Karoo­nagte. Hul versameling foto’s verken en belig die dikwels skugter vorme, teksture en stories van die oeroue Karoo-landskap.

’n Paar ander plekke om tydens die fees te besoek, is:

Doornkraal Padstal
Min mense weet dat hulle hier ’n smullekker plaasete kan geniet, op die stoep of as padkos. Ouma se spyskaart, sê ’n bordjie soos mens instap. Langs die stoep brand ’n vuur vir dié Klein Karoo-juweel se spesialiteit: roekelose roosterkoeke, elke dag vars voorberei en tra­disioneel op die kole gebak! Die lang lys van vulsels sluit alles in waarvoor ons lief is: brêkfis met spek en eiers, souserige skaapvleis, Camembertsmeer met groenvye en vele meer. Hulle is oop van Maandag tot Vrydag, 08:00 tot 17:00, Saterdae van 08:30 tot 15:00, en Sondae van 09:00 tot 14:00. Kontak die Doornkraal Padstal by 082 763 5296 of stuur ’n e-pos na wyn@doornkraal.co.za.

Village Trading Post
Jou eenstopwinkel vir koffie, toebroodjies, pasteie, geskenke en plante in De Rust. Die eienaars en gashere, Niekie en Soan, sorg altyd vir ’n onvergeetlike kuiertjie op die stoep. Geleë by die Caltex Garage soos mens die dorp vanaf Oudts­hoorn se kant af binnery.

Pluim Eatery
Vir ’n Sondagmiddagete met styl is Pluim Eatery bo-aan die De Rust-lys, met ’n spyskaart wat weekliks verander. (Sien hul spyskaart onderaan.) Gedurende die week bedien Pluim Eatery ’n a la carte-spyskaart met onder meer ’n heeldag-ontbyt, heerlike gebak en ’n paar chef’s specials soos’n slaai met vye en feta, romerige peri-peri-hoenderlewertjies op polenta, en lamsvleis in ’n pitabrood met slaai of skyfies. Die eienaars Andries Schoe­man en Jan Badenhorst is jou gashere, met hul kulinêre-venoot, sjef Ilse Beyers, aan die roer van sake in die kombuis.

De Rust Country Market
Die De Rust Country Market vind elke eerste Saterdag van die maand plaas, van 09:00 tot 12:00 in die Sunset Karavaanpark.

Gaan besigtig die stalletjies van plaaslike produkte hierdie Saterdag. (Deur Stefan Skapie Goosen en Robert Koen)