Barrow en 3 ander vereer

Nic Barrow (derde van links), die man wat die saadjie geplant het vir ’n eerste Afrikaanse kunstefees in Suid-Afrika is Woensdagmiddag tydens ’n funksie in die Absa Kuierkamer deur die KKNK vereer vir sy bydrae tot die fees. Hy was een van vier ontvangers van toekennings vir hul bydraes tot die KKNK. Die ander toekennings het gegaan aan van links die kunstenaars Frank Opperman (Kunste Onbeperk-prys vir vertolking), die feeskunstenaar Mary Sibande en die skrywer en digter Jolyn Phillips (Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem). Foto: Schalk le Roux

NIC BARROW, een van die stigters­lede van die KKNK en die man wat die saadjie vir ’n kunstefees op Oudts­hoorn geplant het, is Woensdag by die fees op Oudtshoorn vereer vir sy bydrae tot die KKNK.

Die eerste saadjie vir die KKNK is in 1992 geplant toe Barrow saam met sy vrou, Ferda, en hul dogters, Olga en Nicolene, die National Arts Festival in Makhanda (destyds Grahamstad) bygewoon het. Barrow het besef dat daar geen soortgelyke Afri­kaanse fees in die land is nie, en net daar is die droom van ’n Afrikaanse kunstefees op Oudtshoorn gebore.

As groot liefhebber van die kunste, én suksesvolle sakeman, het Barrow besef wat so ’n fees vir die kunste in Suid-Afrika kan beteken, maar ook vir die ekonomie van ’n Klein Karoo-dorp soos Oudtshoorn, die streek en die provinsie.

Diegene wat Barrow ken, weet hy is nie net ’n dromer nie, maar ook ’n doener. En wanneer hy doen, doen hy dit met ’n geesdrif en passie wat almal om hom inspireer.

Barrow het sy aanvanklike idee met Andrew Marais, eertydse skakelhoof van Nasionale Pers, gedeel en die droom het gegroei, met ander borge wat aan boord gekom het. Inwoners is geïnspireer en ’n eerste komitee van geesdriftige Oudts­hoorniete het aan die werk gespring. Kundiges soos die dramaturg Pieter Fourie, wat as feeshoof gedien het, en die rolprentmaker en draaiboekskrywer Jans Rautenbach is betrek.

Die res is geskiedenis. Die invloed van die KKNK op teater en musiek in Suid-Afrika was oor die jare massief.

Later jare was Barrow ook die dryfveer agter Klein Karoo Klassique en is ook die beskermheer van dié jaarlikse klassieke musiekfees wat ook deur Kunste Onbeperk in Oudts­hoorn aangebied word. Tans woon hy en Ferda in Franschhoek waar hulle vanjaar ook die Franschhoek Chamber Music Festival op die been gebring het. Dit is in Februarie vir die eerste keer aangebied. (Deur Liesel le Roux)