Motorfietsryer val oor versperring op pas

Die beseerde word na die AMS-helikopter gehaas. Foto’s: Johan Uys

’N MOTORFIETSRYER het Sondag glo slegs ligte beserings opgedoen nadat hy die padversperring in die Huisrivierpas tussen Caltzdorp en Ladismith getref en oor die reling tot op ’n klipplaat geval het.

Volgens kapt Ian Meyer van die Calitzdorp Polisie was hy een van ’n groep van 10 motorfiets­ryers wat oor die pad gery het. Sy motorfiets het aanhou loop en ’n ander ryer getref wat ook geval het.

Nie een van die beseerdes is klaarblyklik ernstig beseer nie. Meyer sê die helikopter van die Air Mercy Service is ontbied omdat dit die enigste manier was om die ryer van die klipplaat waar hy geval het, na bo te kon bring.

Hy is van die toneel verwyder en na ’n onbe­kende hospitaal geneem. Die naam van die beseerdes is ook nie bekend nie, maar hulle is klaarblyklik nie van die omgewing nie.

Navrae oor die voorval aan die provinsiale woordvoerder van die Departement Gesondheid was teen druktyd nog nie beantwoord nie. (Deur Liesel le Roux)