Ons groet maar aanmekaar

Saam met Johan Strasheim

Ek dink vandag terug aan twee liewe mense wat my lewenspad gekruis het – en ek die laaste ruk moes groet. Twee totaal uiteenlopnde mense, maar elkeen baie spesiaal op sy eie, unieke manier. Een het ek vir ’n baie lang ruk geken, die ander vir ’n relatiewe kort rukkie.

Die eerste is my liewe skoonma wat sowat ’n maand gelede oorlede is. Sy was langer in my lewe as wat my eie ma was! Ek is gevra om die bedankings by haar gedenkdiens te doen soos ek met my ouers ook destyds gevra is. Ek wonder maar waarom ek telkens met hierdie “job” opeindig! Jy kan mos nie “nee” sê nie, kan jy? Want dit is eintlik ’n voorreg en jy doen dit eintlik baie graag. Jy berei alles voor en beplan jou stukkie wat jy wil voordra sorgvuldig, want by so ’n geleentheid trek die gemoedere maar swaar en ’n ou wil nie jou “pose” verloor en die hartseer jou keel laat toetrek nie. Dit gebeur maar baie maklik, veral wanneer jy die klomp bekende gesigte vol emosie voor jou sien sit.

Alles het goed gegaan totdat ek ’n gediggie van Elzabe Heyns op die notas voor my sien wat ek so graag wou voorlees … toe trek my spreekwoordelike handbriek op en ek slaan dit maar ewe ongemerk en onskuldig oor. Ai tog. So graag as wat ek dit daar wou voorlees, die gewilligheid het my daar in die steek gelaat en nou dra ek dit maar hier aan my dierbare skoonma Miratio Nel op:

Vandag stol ‘n traan op my wang
(Elzabe Young Heyns)

Vandag breek ’n stukkie van my hart
maar ek stuur die stukkie saam met jou
om altyd naby jou te hou

Vandag verloor ek ’n tyd van my lewe
waaraan jy elke dag deel kon hê
waar ons soveel gehad het om vir
mekaar te sê
Vandag pyn my hele wese
want ek weet dit wat ons bind
sal ’n mens nie gou weer vind

Vandag stol ’n traan op my wang
as teken van ons tye saam
my geheue gevlek met jou naam.

Is dit nie pragtig nie? My dierbare ou ma, ons groet jou en sê dankie vir alles wat jy oor die jare gedoen het vir ons en vir die klomp kleinkinders. Jy word met groot deernis en baie liefde onthou.

Vandag wat ek hierdie skryf, is 1 September, tradisioneel Lentedag. Ek onthou die dag egter vir ’n ander rede. Vandag, drie jaar gelede, het ’n ander vriend vooruitgegaan: Hennie Potgie­ter. Hennie, my ou maat, jy was te kort in my lewe. As iemand wat ’n baie groot hoeveelheid mense het wat sy lewenspad kruis, kan ek weliswaar getuig dat jou naam daar bo-aan die lys van spesiale mense is wat my pad gekruis het. Jy het baie gou baie groot spore gelaat, ou vriend, en ek sal jou nie gou vergeet nie.

Hier is baie manne in die Klein Karoo wat jou nog baie lank sal ont-hou. Ware vriende is dié wat nooit uit jou hart uit gaan nie, al is hulle uit jou lewe uit vir ’n ruk. Ons sien mekaar mekaar weer, ou vriend, jy moet maar net so ietwat vasbyt – ek het nog dinge om te doen hier! Ons sal weer die lyne eendag optel.

Jou humorsin was jou uitstaande handelsmerk… en al wat ek kan sê, is: Selfs die beste van vriende kan geluk­kig nie mekaar se begrafnisse bywoon nie!

Ek het lank gelede ’n stukkie geskryf oor die dood wat maar deel is van die die lewe. Dit is seker so. Die wyse manne reken ’n mens skryf self sy eie huldeblyk terwyl hy nog lewe, en dit is beslis so. Hierdie is twee mense wat dit met onderskeiding gedoen het!

Ek mis julle albei. Rus in vrede…