Om jou oë uit jou kop te skaam!

Deur Poem Mooney

Ons het ’n gesprek gehad tydens ons koffie-sessie op my agterstoep. Ousie Roeslyn met ’n koerant-uitknipsel in die linkerhand en ’n stomende koppie koffie in die regterhand.

“Gert,” het Ousie hierdie interessante gesprek sommer van die heup uitgeskiet. “Kyk net wat lees ek raak in Die Burger van Saterdag, 22 Junie 2024.

Ek het vuur gemaak en ek het die koerantpapier geskeur om die nat hout aan te help toe ek die opskrif lees uit die rubriek van Dawie en weet jy wat lees ek onder die vetgedrukte letters? Ek haal aan: “Die populistiese opposisie is hier.” Vir ’n oomblik het sy diep asem geskep en toe praat sy verder: “Weet jy, Gert,” het sy voortgeborduur. “Ek het nie eens die rubriek deurgelees nie, want ek het besluit om met jou te praat oor populisme – en sê jy vir my waar pas die woorde ‘populistiese opposisie’ in by die regering van Nasionale eenheid? Sê vir my, Gert, na wie verwys die skrywer van dié rubriek? Jy’s dan so slim. Praat met my.”

Ek het rustig aan my koffie geteug en lank na Ousie gestaar, want ek het geweet sy het my uitgedaag om iets sinvol te sê.

“Ai, Ousie,” het ek versigtig my woorde afgemeet. “Ons het die afgelope tyd gestem vir die politieke partye van ons keuse.”

“Ousie weet mos politiekery het te make met, of kom ek stel dit liewer so – dit is eintlik ’n kleingeestige bedrywigheid om groepsvoordeel te behaal.”

“Ja, Gert,” het sy my ongeduldig in die rede geval. “Moenie so suutjies-poep nie, noem die ding op sy naam!”

“Ek het gevra jy moet vir my sê wat is populisme en ek het vir jou gevra wat of wanneer praat ons van populistiese opposisie, Gert, is dit dan nie ’n geneigdheid van mense in skole, in kerke en selfs in groot gemeenskapsorganisasies nie, of hoe?” Ousie Roeslyn het vir my en haarself ’n tweede koppie koffie geskink, en toe kyk sy my afwagtend aan.

“Ousie,” het ek weer begin en weereens het ek my woorde versigtig gekies. “Populisme is eintlik ’n handeling om vir die ‘crowd’ te speel, want sien die woord populasie praat van die bevolking.
Dit is deel van ’n magspel waarna jy strewe om te wees en jy is reg as jy die instansies noem waar hierdie geneigdheid inskop. Populariteit is ’n toe-stand van gewild wees of geliefd wees. Sulke mense, wie populêr wil wees, speel openlik vir die ‘crowd’. Iemand wie hierdie toestand by mense miskyk is siende blind en horende doof.”

“Gert,” het Ousie weer by my aangedring, “bring jou perde pad toe. Ek wil hê jy moet reguit kolf as jy my wil oortuig.”

“Ousie Roeslyn,” het ek weer met die aanslag begin wat sy wou hê. “Eintlik moes jy die rubriek gelees het, dan sou jy presies geweet het wie die populistiese opposisie is. Ek, Ousie, het nie daardie rubriek van Dawie gelees nie.”

Ousie het weer die koffieketel nadergetrek en gekyk hoe sy ons koffiebekers volmaak. Daar was ’n triomfantlike vonkel in haar oog. “Nou het jy mos gesê wat ek wou hoor. Alles wat jy gesê het, daarmee stem ek volkome saam, want sien, Gert, die oorgrote meerderheid van die volk, en hier wil ek by jou aansluit by die woord wat jy gebruik het, populasie, en as ek reg is, Gert, onthou jy het genoem dat as ’n mens die woord ‘populasie’ noem, praat jy van die bevolking. Ek het dit so, Gert, dat jy ook van ’n bepaalde groep binne die groter bevolking praat.”

Ek het Ousie diep in die oë gekyk en toe vra ek halfhartig: “Het jy my nuwe bundel gedigte onder die oë gehad, Ousie?”

“Nee, Gert, hoekom sou ek en waar moes ek die bundel uitgesnuffel het?” het sy beslis geantwoord.

“Dit voel dan vir my Ousie het die Psalm van die Poeët gelees op bladsy 16 in die digtergedagtes.”

Ousie Roeslyn het die koffieketel van die stoof afgehaal en vir ons elkeen nog ’n koffie geskink en toe sê sy met ’n skor stem: “Lees vir my.”

Ek het na my studeerkamer toe gestap, die bundel Digtergedagtes, uit die boekrak gehaal. Vir die hoeveelste keer het ek na bladsy 16 geblaai, en met oorgawe die Psalm gelees:

Psalm van die Poeët
Ek het my hande saamgeslaan,
Vir die mense wie hulle onbeskaamd
op alle vlakke in die samebring posisioneer.
Ek het hier onder meer ’n nuwe sosiale skurfte raakgelees; ek het gewonder: gaan dit om gekrenkte eer, of aansien, onderliggende vrees of ‘die twee here wat jy dien’, geregtigheid of geld?
Ek het my geskaam vir die geweld, wat aangehits word deur mense wie altyd grootpraat, hulle wie onskuldige mense doodmaak; hulle wie slaafse volgelinge oprui met populistiese propaganda, met slagspreuke waardeur hulle onmin saai.
Hulle wie die geskiedenis verdraai, anargie goedpraat, hule eie volk en vaderland verraai.
Mag hulle omkom vanweë hul bose planne wat hulle koester; mag die bloed van ongelukkige burgerlikes wat aan hulle hande kleef raakgesien word deur hierdie dwase volgelinge. Laat hulle die lig sien, voordat die ewige duisternis toesak, die newels wat versiendheid verswak.
Blus die weerspannigheid wat volkome nietigheid sal meebring; laat hulle wat gedurig olie op die vlamme van geweld strooi, rooi van die skaamte word, en mag die hel se vlamme oor hulle losbreek, laat hulle omkom, Here, laat hulle – verdronge deur die eie waan hul einde sien.

Be the first to comment on "Om jou oë uit jou kop te skaam!"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*