Om die grond onder jou voete te soen

Deur Poem Mooney

Ek het vanmôre vroeg opgestaan, vol opwinding vir die nuwe dag.

Ousie Roeslyn het my gedurende die Paasnaweek gebel om my in kennis te stel dat sy oppad is Oudtshoorn toe. “Gert, het sy gesê, ek kom huis toe. Die ses maande wat ek in De Doorns gekuier het, voel soos ’n ewigheid. Ek stry nie, ek het verskriklik huis toe verlang. Die gesprekke om die koffietafel op die agterstoep. Die soet-suurdeegbrood en die karringmelkbeskuit, ek sien jou môre,” en met hierdie woorde het sy afgelui.

Dit is die rede hoekom ek vanmôre vroeg opgestaan het. Ek het die ketel aangeskakel. Die koffiebekers op die skinkbord uitgestal met die koffie, suiker en melk. Ek het kort-kort op my horlosie gekyk en toe ek die motordeure buite hoor klap en Ousie se vrolike stem hoor, het ek onmiddelik die koffie ingeskink.

“Gert!” het sy vrolik uitgeroep. “Ek is hier, weet jy, ek is sommer lus om die grond te soen!” Ek het Ousie omhels, met ’n klapsoen gegroet en haar koffer en handsak by haar geneem.

Ons het in stilte koffie gdrink en haar geliefde karringmelkbeskuit geniet.

“Jy mag maar die grond onder jou voete soen, Ousie,” het ek ons gesprek begin. “Ek het emosioneel geraak toe jy die woorde uiter, en kon nie help om te dink aan die hele Suid-Afrikaanse grondgebied wat ek so innig liefhet. Die opmerking het my laat terugdink aan die dag to Muriel Engelbrecht die grond gesoen het met ons eerste besoek aan Robbeneiland.”

Ousie Roeslyn het haar leë koffiekoppie agteruit gestoot. “Ek het nogal gewonder hoekom jy so ingedagte geraak het, noudat ek die opmerking gemaak het. Ek moes jou eintlik gevra het waarom jy nie onmiddelik geantwoord het nie.”

“Sien, Ousie,” het ek onmiddelik geantwoord. “Om die grond onder jou voete te soen, is ’n simboliese uiting. Dit het my laat dink aan die simboliek van so ’n gebaar, eintlik ’n simboliese voorstelling van liefhê.”

Ek het opgekyk na Ousie en gesien hoe die trane oor haar wange rol. “Ja, jy is reg, Ousie, jy mag maar huil oor jou tuiskoms.” Sy het haar trane afgevee en my geskok met haar antwoord.

“Jy is net so reg, Gert, oor jou opmerking,” Ousie het snikkend verder gepraat. “Ja, jy is reg, ek het die grond lief waarop ek staan. Die grond waarop ek staan, die grond waarin my naelstring begrawe lê, die grond wat van ons ontneem is, toe ons van grond en taal vervreem is.”

“Ai, Gert,” het sy verder gesnik. “Die volksgeskiedenis kon so anders gewees het, as almal in hierdie land mekaar se leefwyse gerespekteer het. Ek is nie negatief nie, Gert, net dankbaar vir ons land en sy mense en sy grond, God se grond, wat ek met my hele lewe liefhet. Die grond wat ek so graag wil soen!”

Ek het deur die kombuisvenster gekyk na die berge rondom Oudtshoorn. “Ja, Ousie,” het ek instemmend geantwoord. “Ons mag die grond soen. Die voetstoel vir God se voete.”

Ousie het opgestaan en vir ons elkeen nog ’n koppie koffie geskink en ewe dramaties opgemerk: “Kom ons stel ’n heildronk in op die grond wat gesoen moet word!” (Deur Poem Mooney)