Smaakmakers: wat jy moet weet

Dit blyk dat deesdae elke jan rap en sy maat hom as ’n smaakmaker (Influencer) voordoen, maar dis nie bloot net ’n selfoon optel en video’s maak en op sosiale media plaas nie. Afgesien van die wetlike reëls wat gevolg moet word, moet besighede op die uitkyk wees vir die volgende voor hul iemand aanstel.

Die Hoorn het om op hierdie wyse te bemark met die bekende en gewilde smaakmaker Nikki du Toit van LekkerNikkie, ’n kenner op die gebied, gesels om uit te vind hoe dit werk.

Die Popi-wet bepaal dat geen persoon se informasie, wat insluit foto’s of die afneem van mense sonder die nodige toestemming in die openbaar gebruik mag word nie. Dit beteken, dat sou daar nie toestemming van die besigheid wees, of van die persoon in die besigheid wees om in jou video te verskyn, die Popi-wet oortree word.

“Wanneer ek ’n video neem, sal ek vir persone vra of hulle deel van die video wil wees. Sommige is baie opgewonde om saam met my daarop te verskyn, ander is skaam en wil glad nie op wees nie” sê Nikki.

So ook moet jy toestemming hê van die winkeleienaar om wel ’n video te mag neem op sy perseel en van hul produkte. “Persone kan nie net links en regs videos maak van winkels, veral nasionale winkels, sonder hoofkantoor se ’go-ahead’ nie,”

Kinders se gesiggies afneem is ook ’n baie groot nee, omdat hul nog minderjarig is, tensy daar toestemming deur die ouer gegee word.

“Dis nie net gevaarlik om video’s te maak terwyl daar in die motor bestuur word nie, maar dit is ook teen die wet,” voeg sy by.

Smaakmakers is deesdae ’n volwaardige besigheid, en daarom is daar maatskappye wat slegs daarop fokus. Wanneer hulle inhoud maak vir nasionale maatskappye moet hul ’n registrasiesertifikaat vir hulle besigheid kan gee, BTW geregistreer wees, ’n BBE sertifikaat hê asook ’n BTW verklaringssertifikaat. Daarsonder kan daar nie handel gedryf word met nasionale maatskappy nie.

Een van die groot probleme met die industrie tans is dat sommige smaakmakers volgelinge kan koop. Dit is profiele wat nie regtig aan mense behoort nie, maar daar is duisende profiele wat deur een persoon geskep word, en dan “like” hulle die persoon se blad wat hulle koop.

Die maklikste manier om te sien of iemand volgelinge koop is om te kyk na die hoeveelheid “likes”, hoeveel keer die inskrywing gedeel word, asook die video gekyk word. Sulke profiele met baie “like” of volgelinge het gewoonlik baie min kommentare, “likes” en “views”. Die profiel groei ook oornag van ’n handjievol volgelinge tot in die duisende.

“’n Normale organiese groei van volgelinge is sowat ’n 1000 in ’n maand,”.

Nog ’n manier wat persone hul syfers probeer wegsteek met gekoopte volgelinge is die plaas van “reels” in plaas van video’s, waar die “views” nie gesien kan word nie.

“Die groot gevaar is dat hierdie persone die mark negatief beïnvloed,” vertel Nikki.

Hul bladsye lyk baie goed en groot, maar kliënte kry nie die bemarkingswaarde waarvoor hulle betaal nie. Wanneer smaakmakers wat wel ’n groot organiese basis volgelinge het na daardie besighede gaan en hul dienste aanbied, word daar gesê dat aanlyn bemarking nie vir hulle gewerk het nie. Dit is omdat dit wat hulle bied nie die regte en nodige volgelinge bevat wat daar wil wees nie.

Besighede word aangemoedig om eers goed hulle huiswerk te doen, voor hul ’n persoon of maatskappy gebruik. “Selfs al oorweeg hulle om my te gebruik, sal ek hulle aanraai om eers goed navorsing te doen, te gaan kyk na my inhoud en die manier waarop ek my video’s doen voor hulle besluit,” sluit sy af.

Ons leef in ’n nuwe era, waar aanlyn bemarking al hoe meer posvat, veral om ’n hele nuwe basis van kliënte te bereik, maar met nuwe goeie uitvindsels, kom daar ook mense wat slim is en weet hoe om die stelsel te manipuleer, so stel steeds goed ondersoek in.

“En dit is die verskil tussen ’n “Influencer” en ’n “Sheinfluencer” lag Nikkie.

Gaan kyk gerus op Die Hoorn se Facebookblad na die onderhoud tussen Angelique en Nikkie op Maandag 28 April, vir ’n volle meer in diepte verduideliking van die onderwerp. (ANGELIQUE ERASMUS)