Jagluiperd op privaatvlug

’n Jagluiperd van Buffelsdrift Game Lodge, buite Oudtshoorn, is Woensdagoggend per privaat vliegtuig na Piet Retief geneem, waar sy deel gaan wees van ’n teelprogram. Die 8-jarige jagluiperd-wyfie wat reeds geboorte gegee het aan vyf welpies by Buffelsdrift in ’n 6 jaar tydperk, vorm deel van hul teelprogram.

“Sy gaan na ’n ongelooflike mooi plek toe,” vertel Kyla Swanepoel, wildbestuurder en hoofgids by Buffelsdrift. Alhoewel hulle hartseer is dat sy weggaan, is dit noodsaaklik om te verseker dat die genetika van hul eie jagluiperd-populasie skoon bly, en daar nie inteling plaasvind nie.