Poem Mooney vertel van die spoorweghalte Letjiesbos en ’n besonderse nuwejaarvieringe uit sy kinderdae
ONS ouers en my ma se oudste suster, met hul gesinne, is een nuwejaar Letjiesbos toe. Ons het per trein gereis vanaf Prins Albert-stasie met die legendariese “stukkie blik”. Dit was die naam van die trein.
Natuurlik moes my ma ons almal se treinkaartjies betaal, terwyl my oom, boetie Sam Goliath, se kinders PTO gereis het.
Dieselfde voorreg het oom Jan Samson se familie te beurt geval.
Hulle was albei spoorwegwerkers. Oom Jan Samson en my oom.
Ons sou juis by oom Jan Samson se ouers gaan kuier het op Letjiesbos. Die gedagte was juis dat ons die Nuwejaar by hulle sou deurbring.
Daar was eintlik drie redes wat my laat uitsien het om op Letjiesbos uit te kom – die treinrit, musiek en die vleis. Die grootmense, so glo ek, moes hulle eie beweegredes gehad het.
Ek was baie opgewonde oor al die lekkernye, die bakbrood en braaivleis. In daardie jare was sterk drank net vir grootmense en
Exa en ander aanmaakkoeldranke, appelsap en gemmerbier vir die kinders. Daar was ook Coke vir die kinders wie se ouers dit kon bekostig. King size en standard size.
Die musikante het teen middagete so stuk-stuk opgedaag. Ooms met kitare, pensklaviere, banjo’s, bekfluitjies en blikviole.
Oom Jan Samson het ’n besonderse blikviool gehad. So ’n wit gelling-oliekannetjie – daai kannetjies met die seeperdjie. ’n
Selfgemaakte blikviool met ’n houtnek, katdermsnare en hout-“patons”.
Hy het die instrument met ’n selfgemaakte strykstok bespeel. In die middel van die kannetjie was ’n selfgemaakte gat om die klank te versterk.
Toe die trein op Letjiesbos stilhou, het ons almal ewe nuuskierig by die treindeure uitgepeul en soos afkophoenders gesoek vir die huise en die mense van hierdie spoorweghalte.
Vandag nog kan ek die spoorweghuisies voor my geestesoog oproep. Die watertenke langs die spoorlyn was ge-sluit met ’n slotjie. Jy moes die sleutel by die oom vra en ’n grootmens moes bystaan as jy water wou tap.
Hierdie gedurige waterbesparing het my saam met die ander kinders rivier toe gedwing, waar ek ook moes leer om goras te grawe.
Die rivier het van wal tot wal toe oop tussen die bome gelê. Daar was nie ’n enkele druppel water in die rivier nie. Jy kon egter net ’n vlakkerige gat grawe, enige plek op daardie oënskynlike droë bodem, en siedaar was jou drinkwater.
Jy kan dan op jou maag lê om uit dié gora water te drink.
Die rivierbedding was droog en sy het oopketel tussen die lowergroen bome gelê, en die waterdrinkery het ’n aangename speletjie geword.
Nadat ons allerhande speletjies gespeel het, het ons huis se kant toe getou, want ons was honger. Die rook van die braaivleisvure het in die soel, laat na-middag oor die tafels en die stoele gehang, waar die grootmense besig was om dominoes te speel.
Die musikante het lustig beginne temerig vryf en tokkel aan hul instrumente. So half temerig het oom Jan Samson se blikviool saamgesels. Tussen die gewoel en die gewerskaf om die kostafels en die vleispotte, het die grootmense die wondelikste liedjies onder lewendige musiekbegeleiding gesing en dit was duidelik dat die Nuwejaarsviering beginne gees vang.
En toe word die kosborde aangedra.
Braaivleis, boudvleis en kookvleis, pampoen, groenbootjiebredie en allerhande slaaie. Daar was ook soetsuurdeegbrood en dommeling wat deur- week was met die kragtige vleissouse uit die groot swart driepootpotte.
Daar was allerhande soorte koeke, jellie en vla, en poedings te kies en te keur en op die dansvloer het die inwo-ners gedans dat die stof so staan.
Hoe later, hoe kwater het dit op die dansbaan gegaan, en bo die geklank van die musiekinstrumente, het die vrolike sang van die partytjiegangers opge-klink.
Die oom wat die gasheer was, het met al wat ’n vrou was, gedans. Hy was nogal rats en flink van voet.
Hy is luidkeels aangemoedig deur die feesvierende gemeenskap.
Die musikante het onophoudelik gespeel en dit was opvallend dat hulle al die liedjies geken het.
Die kinders het so onder die dansery aan die slaap geraak, wakker geword, en weer geëet en gedrink.
Teen dagbreek op Tweede Nuwejaarsdag het ons so traag-traag en in gelid saam met ons ouers op die trein gewag. Ons moes die terugtog aanpak Prins Albert-stasie toe.
Ons is daardie môre almal in ’n enkelkoepee ingedruk en so onder die geklik-klak van die wiele van die trein het ons weer eens aan die slaap geval.
Jare daarna het ek en my gesin teruggery op my spore deur die groot Karoo. Ek wou sien hoe lyk die Letjiesbos waar ons so ’n onvergeetlike Nuwejaarsviering beleef het. Die spoorlyn het geblink in die agtermiddagson en ek het iets in die opgeefsels gesien.
Die rivier het nog net so oopkoetel gelê. Die bedding droog.
Ek het ’n gora gegrawe en vir my kinders gewys hoe om die water te drink uit die vlakkerige gat.
Weerskante van die rivierbedding het die doringbome met die donsige geel blommetjies tussen die grasgroen blare prentjiemooi vertoon.
Ek het gesoek vir Letjiesbos, die plek wat so groot was toe ons klein was. Iewers het iets verlore geraak, ek kon nie my vinger lê op die oorsaak van ’n gevoel van verlorenheid nie.
Ek kon ook nie die skielike klammigheid in my ooghoeke verklaar nie.