Die verhaal van die seun wat na sy pa toe gegaan, sy deel van die erfporsie gevra, daarmee weggegaan, en dit gaan verkwansel het, is aan baie van ons bekend.
Dit is een van die gelykenisse wat Jesus in Lukas 15 vir die Fariseërs vertel nadat hulle Jesus daarvan beskuldig het dat hy tyd spandeer met tollenaars en sondaars. Jesus vertel vir hulle dat hierdie seun op die ou einde alles verloor en tussen varke op ’n plaas beland waar hy terugverlang na sy vader se huis, al is dit dan net om een van sy vader se bediendes of werkers te kan wees. Hier is ’n uittreksel uit die gelykenis in Lukas 15:
17 Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. 18 Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! 19 Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’ 20 En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan.
Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom. 21 Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ 22 Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23 En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24 Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.
Ons het ook, net soos hierdie seun, gaan dwaal. Ons het almal die pad van sonde gaan stap en ons rug gedraai op ons Vader wat in die Hemel is. Ons het ook tussen die varke beland. Die profeet Jesaja dui hierop wanneer hy in Jesaja 53 die volgende skryf:
6 Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elk-een sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.
Ook skryf Paulus hieroor aan die gelowiges in Rome om hulle te herinner aan waarvandaan ons kom. Paulus skryf in Romeine 3 die volgende:
12 “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.”
Ek wil egter jou aandag op iets vestig. In hierdie gelykenis, vertel Jesus die gehoor ook van ’n liefdevolle, barmhartig en genadige Vader. Die Vader wat elke dag in die pad gaan staan en gewag het vir sy seun om terug te kom. Die Vader wat van Sy kant af alles in plek gestel het sodat hierdie seun deel van die Vader se huis kan wees en nie as bediende, slaaf of werker nie, maar as seun. Paulus skryf ook hieroor wanneer daar verwys word na dit wat die Vader vir my en jou bewerkstellig het.”
Ons lees in Efesiërs 2:1-10:
1 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2 wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.
3 So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4 Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7 sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.
8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10 Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Graag vestig ek jou aandag op vers 4: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief…”
Dit is die hart van die Vader, dit is die Vader na wie Jesus verwys in Lukas 15 se gelykenis. Die Vader wat in die pad staan en wag, maar ook die Vader wat alles moontlik gemaak het vir my en jou om kinders van God te kan wees.
Die vraag is dit: “Leef jy nog asof jy tussen die varke woon of leef jy soos ’n kind wat tuis is in jou Vader se huis? Het jy ’n slaaf-mentaliteit of het jy ’n seun-mentaliteit?
Die vyand kan ons so baie herinner aan wie ons was en dan vergeet ons baie gou wie ons geword het in Christus Jesus. Jesus vertel dat nog skaars nadat hierdie seun ’n lang verduidelik en belydenis kon aflê, die Vader opdrag gee dat hy beklee word as seun. Ons lees daar:
‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23 En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!
Die Vader het anders na die seun gekyk as wat die seun na homself gekyk het. God kyk anders na ons as wat ons baiemaal na onsself kyk.
Ons glo eerder wat die vyand vir ons wysmaak en besef nie wie en wat ons in Christus Jesus geword het met ons redding wat God bewerkstellig het nie.
Het jy geweet dat wanneer jy Jesus Christus as jou verlosser en saligmaker bely, die volgende (om maar enkeles te noem) eienskappe aan jou behoort en aan jou toegeskryf word?
Ek is ’n nuwe mens.
17 Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18 Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toe-vertrou. 2 Kor 5:17-18
My sonde / verlede word my nie meer toegereken nie.
1 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2 Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3 Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4 Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. Rom 8:1-5
Niks kan my van God se liefde skei nie en ek leef in oorwinning.
31 Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32 Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?
33 Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons ver-oordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Rom 8:31-39
Ek word nou deur die Gees gelei en ek deel in alles van God.
Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15 Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16 Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17 En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Rom 8:15-17
Ek kan met vrymoedigheid nader tot God.
14 Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Heb 5:14-16
Ek is ’n ambassadeur van God se Koningkryk.
20 Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21 Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. 2 Kor 5:20-21
Deur die Gees kan ek die geestelike waarde van alle dinge beoordeel.
10 Aan ons dan het God dit deur die Gees be-kend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. 11 Watter mens ken die verborge dinge van ’n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. 12 Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. 13 Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer.
So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het. 14 Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. 15 Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. 16 Daar staan geskrywe:
“Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus. 1 Kor. 2:10-16
Mag jy met hierdie mentaliteit leef. Mag jy deur hierdie waarheid vanuit God se Woord bemoedig word, nie om arrogant, grootpraterig en belangrik te voel nie, maar om geliefd deur God te voel en bewus te wees van Sy groot reddende genade en barmhartigheid.
Mag jy leef soos ’n seun en nie soos ’n slaaf nie. (Deur Pastoor Francois Mattheüs)
Kingdom News: Noudat ek aan Christus Jesus behoort
Deur Pastoor Francois Mattheüs