Nie deur krag of eie mag nie

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

DAAROM het hy vir my gesê: “Dit is die woord van die Here aan Serubbabel: ‘Nie deur krag of deur mag nie, maar deur my Gees, sê die Here, die Almagtige. (Sefanja 4:6).

Het jy al ooit probeer om die taak wat God vir jou het, uit te voer net om te voel asof jy net nie doeltreffend genoeg is of voel dat jy dit ooit gaan kan volbring nie?

Soms roep God ons tot take groter as enigiets wat ons ooit deur ons eie krag kon bereik. Vir Moses was sy taak om die Israeliete uit Egipte terug te lei na die beloofde land. Dawid moes Goliat doodmaak en dan koning word. Die profeet Elia sou teen 450 profete van Baäl te staan kom om te bewys dat hy die ware God dien en Serubbabel moes God se mense uit Babiloniese ballingskap teruglei na Jerusalem en die fondament vir die tempel lê asook die tempel herbou.

In 589 v.C. het Nebukadnésar Jerusalem ingeneem, Salomo se tempel vernietig en die Joodse volk vir sewentig jaar in ballingskap laat wegvoer. Toe die Joodse volk na hierdie tydperk uit ballingskap in Babilon, weer na Jerusalem teruggekeer het, het hulle tuisgekom na ’n tempel wat heeltemal verwoes was. Hulle missie was om God se heilige plek weer te herbou. Die mense het aanvanklik hul doel met ywer begin, maar het die projek laat vaar nadat hulle teenstand gekry het en aan moedeloosheid en onverskilligheid gely het. God gebruik hierdie woorde van die profeet Sagaria om Sy volk, en in besonder, Serubbabel aan te moedig om Sy gegewe taak te voltooi wat die Here aan hom gegee het.

In Sagaria 4:6 sê die profeet, “Dit is die woord van die Here aan Serubbabel: ‘Jy sal nie slaag deur jou eie mag of deur jou eie krag nie, maar deur my Gees, sê die Here, die Almagtige.”
Hierdie bevelende woorde herinner Serubbabel aan hoe om dit te bereik wat onmoontlik lyk. Dit is ook vandag vir my en jou, ’n woord wat vir ons aandui wat nodig is om suksesvol te wees in dit wat ons vir die Here moet doen.

Hierdie herinnering word deur die hele Skrif gegee. God herinner Dawid daaraan om sterk en dapper te wees wanneer die Assiriërs Juda binneval, want die Here is die een wat vir hom sal veg (2 Kronieke 32:7-8). Dit is deur hierdie belofte dat die volk vertroue neem in die Woord van die Here en die oorwinning in die geveg het.

Paulus het ook die Heilige Gees se effek op sy bediening gesien. In 1 Korintiërs 2:4-5 skryf Paulus dat dit nie sy voortreflikheid van woorde en sy wysheid is wat hierdie gemeente oortuig het van die evangelie nie, maar dat dit die werk van die Heilige Gees was en dat dit die werking van God se krag was. In hierdie omstandighede en ook in ons lewens vandag hier in 2024, gaan menslike krag beslis nie voldoende wees om God se taak asook die taak van om elke dag ons lewens volgens Sy Woord en beginsels in te rig, uit te kan voer nie. God se mense het die bemagtiging en krag asook inspraak van die Heilige Gees nodig om suksesvol te kan wees.

Hoe weet ek dat ek eerder op my eie mag en krag staatmaak in stede van om God se Gees kans te gee?
Dit is soms moeilik om te weet of ons op ons eie krag staatmaak of op die Gees vertrou om ons te lei. As ons na verskeie Bybelse karakters kyk, sien ons tog voorbeelde van diegene wat op hul eie krag en mag wou staatmaak en wat die gevolg daarvan was. Indien jy met hierdie aanduidings kan identifiseer, moet daar vir jou rooi ligte aangaan en moet jy daadwerklik besluit om jou eie krag en insig ondergeskik te stel aan die werking van God se Gees in jou lewe:

As jy op jou eie krag en mag staatmaak, word jy dikwels gou senuweeagtig oor jou omstandighede

Wanneer jy nie op God se Heilige Gees vertrou nie en eerder jou eie krag, insig, wysheid en mag probeer inspan, besef jy baie gou hoeveel tekort-kominge of hulpbronne jy werklik het.

Die gevolg hiervan is dat jy vreesagtig raak omdat jou planne en idees nie resultate teweegbring nie. Koning Saul was dikwels baie angstig oor sy posisie en verantwoordelikheid op die troon, toe hy koning was, omdat hy nie op die Here se plan en doel vertrou het nie. Die Jode wat besig was saam met Serubabbel om die tempel te herbou, is maklik deur die opposisie ontmoedig omdat hulle op hul eie vermoë vertrou het om die werk te doen.

Nadat die profete Sagaria en Haggai die woorde van die Here aan hulle gespreek het, kon hulle hul gedagtes en harte weer rig tot die Here en op Sy Heilige Gees staatmaak om hulle te help sodat hulle te midde van die teenstand, steeds gefokus sou bly en die werk kon voltooi.

As jy op jou eie krag en mag staatmaak, sukkel jy om met ’n oop hand teenoor ander te leef
Wanneer jy nie op God se Heilige Gees vertrou nie en eerder jou eie krag, insig, wysheid en mag probeer inspan, sukkel jy om met ’n oop hand te leef. Die rede hiervoor is omdat jy op jou eie bronne staatmaak en bang is dat jy dit sal uitput of moontlike tekortkominge mag hê. Koning Salomo, wat skatryk was, het op sy oudag afgewyk van volkome vertroue op die Here en het hom tot vreemde gode gewend.

Nadat Serubabbel en die volk wat die tempel moes herbou, op die Woord van die Here vertrou en toegelaat het dat Sy Heilige Gees hulle rig en lei in hulle taak, het hulle ongekende guns van die koning gekry, soveel so, dat die koning beveel het dat die koninklike skatkis vir die koste van die tempel sou betaal. God se Heilige Gees help jou om vrygewig te wees want jy weet dat Hy vir jou alles sal teruggee en soveel meer want jy is aan Hom gehoorsaam en vertrou Hom.

As jy op jou eie krag en mag staatmaak, kan jy baie maklik hoogmoedig leef en geen nederigheid betoon nie

Wanneer jy nie op God se Heilige Gees vertrou nie en eerder jou eie krag, insig, wysheid en mag probeer inspan het jy ‘n verhoogde siening van jouself. Die rede hiervoor is dat jy in jou eie krag en mag dink dat jy tot alles in staat is en daarom het jy hoogmoed. Jy het niemand nodig nie, want jy kan alles op jou eie doen en vermag. Die Bybel leer ons dat ons wel tot alles in staat is, maar slegs deur Christus Jesus. Dit is nie ons eie toedoen nie en ons kan dit beslis ook nie volhou in ons eie krag en mag nie.

Die Bybel illustreer hoe God Nebukadnésar se trots kom verneder het (Daniël 4:33). Sy herstel kom wanneer hy die soewereiniteit van God erken (Daniël 4:34-35). Sy voorbeeld wys hoe vernie-tigend trots kan wees vir diegene wat op hul eie krag en mag staatmaak. Serubabbel en die mense wat God se tempel moes herbou, het gou besef dat hulle nie hierdie taak in eie trots kon aanpak en suksesvol voltooi nie. Hulle het nederigheid gekies en op die Here vertrou en die gevolg was dat hulle die taak suksesvol kon afhandel.

Wat beteken dit om volkome op die Heilige Gees te vertrou en nie op ons eie mag en krag staat te maak nie?

Gelowiges het die Heilige Gees binne in hulle. Hy is die inwonende persoon en agent wat deur Christus Jesus aan elke gelowige beloof is. Die Heilige Gees bemagtig ons, help ons in elke omstandigheid, heilig ons, leer en oortuig gelowiges in alle aspekte van hulle lewens.

Deur die Gees is gelowiges toegerus vir dienswerk en dra hulle vrug. Iemand ontvang die Heilige Gees wanneer hulle tot geloof in Christus kom (Efesiërs 1:13-14). Wanneer ek dus die Heilige Gees totale heerskappy in my lewe gee en ek nie in my eie krag en mag probeer om dinge te doen nie, is die volgende kernmerke deel van my lewe:

My vertroue is volkome op die Here en ek laat Hom toe om te doen wat Hy wil doen in my lewe volgens Sy wil en verordinge

Toe Moses die Israeliete uit Egipte gelei het, het hy hulle herinner aan hoe belangrik dit is dat hulle staande bly en sal stil wees en die Here sal toelaat om te werk en hulle as volk te lei en te red. (Eksodus 14:13-14). Dit het plaasgevind toe Farao se weermag besig was om nader te kom toe God se volk voor ’n groot see testaan gekom het en daar nêrens enige ander plek was om heen te vlug nie. Tog het Moses geweet dat die Here die Verlosser van Sy mense was en Hy het bewys dat Hy in staat was om hulle te red. Serubabbel en die herbouers van die tempel moes ook volkome op die Here vertrou en Hom toelaat om hulle taak vir hulle te help deurvoer.

Wanneer ons op die Heilige Gees staatmaak, moet ons wag dat die Gees in ons lewens beweeg volgens die Here se wil vir ons.

Ek verpas my eie pogings
Die uitwerking van selfpoging is vrugteloos. Een van Jesus se laaste opdragte aan Sy dissipels is om in Hom te bly. Hy het gesê dat buiten Hom, hulle niks kan doen nie (Johannes 15:4-5).

Wanneer ons toelaat dat God se Gees in ons werk, verstaan ons dat Hy die een is wat ons sukses moontlik maak (2 Korintiërs 12:9-10). Daarom is dit God wat alle lof en eer ontvang.

Ek leef daagliks saam met God se Heilige Gees en stel my eie pogings ondergesik aan Sy leiding en werking.

Ek maak die Heilige Gees ’n integrale deel van my daaglikse lewe

Wanneer ons op die Gees staatmaak, leef ons ’n lewe wat deur die Gees gelei word. (Galasiërs 5:16-18) Een van die rolle van die Gees is om ons te herinner aan die leringe van Christus. Wanneer ons in die Gees wandel, leef ons die leringe en opdragte van Jesus uit.

Ons moet doelbewustelik kies om die leiding van die Gees te volg. Hebreërs 3:7-8 sê: “Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in rebellie nie.” Jesus Christus se woorde som dit ook baie mooi op:
Johannes 15:4–5 “Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. “Ek is die wingerdstok, julle die lote.

Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”

Moenie op jou eie krag, mag en insig staatmaak in 2024 nie. Kies om die Here te ken in alles wat jy doen en bly in Hom, maak nie saak wat gebeur nie. Laat toe dat Sy Heilige Gees jou rig en lei in 2024. Dit is immers nie deur enige iets anders moontlik, behalwe deur God se Gees nie. Hulle wat deur God se Gees gelei word, is Sy kinders. (Rom. 8:14). (Deur Pastoor Francois Mattheüs)