ONS het soos gewoonlik koffie gedrink op die stoep voor my huis, Ousie Roeslyn en ek. Die aangename geur van die tuisgebrande moerkoffie was die insperasie vanmôre. Die vonk wat ons aangevuur het om oor die bostaande onderwerp en gebore was uit ’n onskuldige vraag van een van my kleinkinders.
Ek het hierdie storie met Ousie Roeslyn gedeel toe ek die aanplakkertjie voor langs haar koffiebeker neergesit het.
“En dit, Gert?” het sy gevra terwyl sy hardop gelees het, “I love Kairos”.
“Ja, ousie,” het ek haar geatwoord. “Ek verstaan duidelik wat jy vanmôre vra, omdat jy juis verwys na die aanplakkertjie wat voor jou lê. Dit is dieselfde vraag wat my kleindogtertjie vir my gevra het toe sy verlede week vir my gevra het en na die advertensie op die skuifdeur in my sitkamer ewe onskuldig gewys het. “Oupa, is that for me?”
“Jy sien, ousie,” het ek verder verduidelik. “Die simboliek van die hartjie op die advertensie het sy gekoppel aan die liefde, want sy is vier jaar oud, en elke keer sal sy sê: “I love you, oupa!”
“En dit ousie, is die rede waarom ek jou die groter storie wil vertel, want hoe op aarde verduidelik jy aan ’n vierjarige kind die storie oor stryd en konflik oor die naam vir ’n organisasie wat byna die onskuldige organisasie se edel motiewe gekelder het?”
Ek het gesien hoe smaaklik sy haar koffiebeker leegmaak. Die frons tussen haar wenkbroue het niks wat goed is voorspel nie, en toe kom die vraag wat ek verwag het en waarvoor ek my voorberei het.
“Nou wat het die hartjie te make met jou storie en wat beteken Kairos en hoekom pla die onskuldige vraag van jou dogtertjie vir jou so vroeg in die môre, Gert?” het sy my ongeduldig aangepor om die geheim op die tafel te ontrafel.
Ek het opgestaan en vir ons elkeen nog ’n koppie aangename boeretroos geskink en toe ’n diep teug van die heerlike tuisgemaakte koffie gevat.
“Ousie,” het ek my storie begin. “Die onskuldige vraag van my kleindogter het my wakker gemaak en my oë oopgemaak oor hoe maklik ’n mens die hartseer geskiedenis van die verlede en die opoffering van ’n gemeenskap so maklik kan vergeet as jy nie iets doen om die storie waaraan feitlik alle betrokkenes, ouers van die kinders, gemeenskapsleiers en personeel en nie-doserende personeel so kliphard gewerk het.”
“Gert,” het ousie my kortgeknip. “Vertel die storie sodat ons dit in die toekoms ook kan oorvertel.”
“Jy ken mos die storie van die Kairos-dokument, nê ousie? Nou ja, dis waar die hele misverstand ontstaan het – binne die destydse drie-kamer parlement.”
“’n Sekere skool van denkers wou dit so hê, dat die naam ‘Kairos’ vir die destydse sentrum vir verstandelik gestremde leerders, ’n politieke naam was, of dat die naam met politieke instansies gekies was en het die destydse onderwysdepartement onder die driekamer parlement geweier het om die nuutgestigte skool te subsideer.
Die vereiste was, verander die naam van die skool en die subsidie sal toegestaan word.”
“Om alles te kroon was daar self ’n alternatiewe skool gestig met ’n ‘neutrale naam’, maar so ’n voorstel is mos ongehoord, Gert!” het ousie my in die rede geval.
“Dit is, ousie, waar die gemeenskap ingekom het. Die skool was gedra deur finansiële bydraes, kos, groente en waatlemoene.
Die KPO – die akroniem – die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie het die advertensie in die vorm van ’n naamplakker aan motors, in huise en agter motorlisiensie skyfies bekend gemaak van die nuwe skool vir verstandelik gestremde kinders, huidiglik, ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
“Gert,” was ousie se reaksie. “En die ouers van die kinders destyds, wat was hulle reaksie?”
“Die ouers was onversetlik met hulle besluit.
Jy sien, ousie,” het ek verder gedeklameer. “Die onderwysopleidingskollege se studente het van hulle beursgeld afgestaan om die veldtog te ondersteun.
Die koerantartikels het bygedra om die advertensieveldtog te ondersteun, en die ouers, ousie, die ouers het bankvas by die naam gestaan, want sien, Kairos beteken ‘opportune time’.
Dit kom uit Grieks wat beteken ‘geleentheid’ – en ousie, vir die eerste keer in die geskiedenis van Oudtshoorn, is ’n skool vir verstandelik gestremde kinders van kleur gestig.”
“Destyds was daar net ’n skool vir blanke leerders. Vandag nog, ousie, pluk dié kinders die vrugte van ’n stryd wat gebore is deur te bou en te mobiliseer.”
“En die subsudie, Gert?” het ousie my verder stormgeloop. “Het die driekamer parlement dit weerhou van die onskulige kindertjies, dit klink dan so na naakte politiek?”
“Nee, ousie, hulle het ingegee. Die twee skole het op die ou end ingegee en die twee skole het een geword. Vandag heet die skool – die heel eerste skool vir blankes, Eljada Kairos, nadat hierdie twee skole besluit het om een te word.
Naskrif: Tans word die boek oor Kairos se geskiedenis geskryf en sal dit hopelik binnekort gepubliseer word. (Deur Poem Mooney)
Die belangrikheid van ’n advertensie
Deur Poem Mooney