
HELENA Ewert, ’n onderwyseres by Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn, het aan die einde van 2023 ’n digbundel, H₂O, saam met Hantié Kotzé gepubliseer wat nie net vir poësieliefhebbers is nie, maar ook vir elkeen wat geraak word deur die visuele.
Die konsep van die digbundel is besonders omdat dit beeld en kleur en woorde kombineer. Die gedigte is gedruk op foto’s wat deur die digters geneem, en deur Hantie verwerk is. Die gedigte wat in die bundel langs mekaar lê, sluit by mekaar en ook by die beelde en kleur van die foto’s aan.
Die bundel is die produk van ’n vriendskap wat in 1990 tydens hul studentejare op Stellenbosch begin het.
Hantie en Helena het van die begin af mekaar geïnspireer en aangemoedig om te skryf.
Die titel van die bundel, H₂O, weerspieël die kreatiewe wissel-werking tussen die digters. Vir hulle is die gedigte “water wat kondenseer” as hulle bymekaar kom en wat hulle graag wil deel met “elkeen wat daarvan wil drink.”
Helena, wat in 2022 gedebuteer het met die digbundel grondstof sê dat hierdie nie ’n opvolgbundel is nie. Hulle het aan H₂O gewerk, terwyl sy besig was met grondstof, en enkele gedigte is in beide bundels omdat die “saampraat” met gedigte van Hantie dit onvermydelik gemaak het.
Helena is ’n Afrikaansonderwyser by Langenhoven Gimnasium en Hantie woon al vir 23 jaar in Nederland waar sy as predikant in Amsterdam se akademiese hospitaal werk.
Sy en Helena het oor die jare kontak behou deur “briewe soos gedigte” vir mekaar te skryf.
H₂O word verkoop vir R200 en is op aanvraag beskikbaar by dhewert@gmail.com. (Deur Lindi Brill)