Gestremde parkering – misbruik en tekort

DIE voormalige speaker van die raad, Japie Coetzee, gaan Maandag, 22 Januarie om 16:00 by Oudtshoorn Inn, ’n vergadering hou om ’n mandaat op te stel wat aan die Burgemeester en die Munisipale Bestuurder oorhandig gaan word wat handel oor die tekort aan en misbruik van gestremde parkering.

Coetzee wil graag die kollig sit op die tekort aan en misbruik van gestremde parkering in die munisipale gebiede in Oudtshoorn.

“Dit is vir ons as gestremde inwoners van Oudtshoorn ’n groot kommer en ongerief dat daar geen of min gestremde parkering in die dorp of by munisipale instansies is nie. Die wat wel daar is, word misbruik deur mense wat nie die reg het om daar te parkeer nie”, het hy aan Die Hoorn vertel.

Coetzee nooi alle inwoners van Oudtshoorn wat deur die gebrek aan gestremde parkering en toeganklikheid vir gestremde persone van geboue geraak word, om hierdie vergadering by te woon.

Kontak gerus vir Coetzee by 082 598 7273. (Deur Lindi Brill)