Die borgtogaansoek van die weermaglid wat van moord op ’n pa van drie kinders aangekla word, is Dinsdag in die Oudtshoorn landdroshof vir uitspraak tot 24 Januarie uitgestel.
Kgametso Tsime (32) het na bewering op Vrydag 29 Desember die 39-jarige Patrick Brocklebank in St Saviourstraat naby die Indraf Kafee met ’n skerp voorwerp gesteek nadat hulle glo in ’n woordewisseling was.
Die organisasie Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het ’n petisie waarin die hof versoek word om nie borgtog aan die beskuldigde toe te staan nie, aan hooflanddros Ryan van Harte oorhandig.
Die aansoek om borgtog dien voor landdros Stephanie Strydom. (Deur Garnett Wicomb)