Met die agtjaarlange droogte wat einde verlede jaar in die Klein Karoo gebreek is, lyk die vooruitsigte goed vir ’n uitstekende 2024-granaatoes.
Volgens Gerhard Meyer, eienaar van die granaatplaas Celebratio en ook hoof uitvoerende beampte van Karoo Pak, is dit die eerste keer in baie jare wat die granaatboere kan uitsien na die seisoen, wat van middel Maart tot einde April strek.
“Ons het reeds navraag uit die buiteland ontvang vir die Wonderful-granate wat vanjaar in die Klein Karoo verbou word. Dié gebied se granate is wêreldwyd gesog weens die besonderse rooi kleur en soet smaak. Die aanvraag oorskry tans steeds die aanbod omdat meeste van die granaatboere in die Klein Karoo nog nie in volproduksie is nie.”
Daar is tans elf granaatboere in die omgewing wat gekontrakteer is by Karoo Pak. ’n Paar het verlede jaar hul eerste oes gehad en die res volg binne die volgende twee tot drie jaar. Die Wonderful-kultivar bereik vol produksie in seisoen vyf.
Die afgelope paar jaar is ’n nuwe handelsmerk genaamd “Karoo Wonderful Pomegranates” gevestig en dit is onlangs ná ’n lang proses geregistreer. Dit sal Karoo Pak in staat stel om premiepryse by invoerders asook geselekteerde Suid-Afrikaanse winkelgroepe vir die plaaslike granaatboere te beding aangesien die Klein Karoo se granate van ’n hoër kwaliteit is as die res van Suid-Afrika s’n.
Die plan is om gesamentlik onder dié handelsmerk uit te voer en nuwe markte te ontgin.
Karoo Pak is die eerste verpakker in Suid-Afrika wat as deel van die USAID Prosper Africa-program toegang tot die Amerikaanse mark ontvang vir die vars granate asook die geprosesseerde granaatprodukte. Dit is volgens Meyer ’n “byna onversadigde mark” vir granate.
“Met dié program sal nuwe premiemarkte vir Karoo Pak se produsente ontsluit word wat ook sal lei tot hoër as gemiddelde markpryse vir Karoo Pak se produsente,” sê Meyer.
Die produkreeks bestaan tans uit die 100% suiwer granaatsap wat reeds in uitgesoekte gesondheidswinkels beskikbaar is en die granaatport (Karoo Rouge) en velsorgreeks (Karoo by Amy) is verlede jaar bekendgestel.
Karoo Pak se verpakkings- en verwerkingsfasiliteit word tans teen ’n koste van meer as R18 miljoen uitgebrei en nuwe granaatprodukte wat vanjaar in die agri-prosesseringsaanleg geproduseer sal word sluit in ’n granaatroomys en ’n granaatreduksie wat heerlik oor jogurt en roomys is.
Die Klein Karoo beskik oor die ideale klimaat vir granate en dié waterwysgewas benodig slegs sowat 6 500 m³ water per hektaar per jaar in vol produksie. Karoo Pak se mikpunt is om ’n verdere 100 hektaar Wonderful-granate in die Klein Karoo-omgewing in die grond te sit. Die wêreld-aanvraag is groot – veral in die vensterperiode wanneer Oudtshoorn se granate Europa bereik.
Die grootste uitvoerder van granate in Suid-Afrika, Sapex, het vroeër die maand in ’n verklaring gesê hulle verwag ’n toename van meer as 10% in granaatvolumes vanjaar. Volgens hulle is die marktoestande baie gunstig. (Deur Marita Meyer)

Foto verskaf