Dit is vandag 16 Junie 2022, ’n baie belangrike openbare (of publieke) vakansiedag. Dit gee my sommer weer die moed om die woord “publiek” te verduidelik. Al die mense saam is die publiek van wie ons praat – die volk of die gemeenskap.
Dit is op hierdie vakansiedag waar my storie begin. Omdat jeugdagviering my nog altyd gefassineer het, het ek hierdie datum gereeld op elke jaarkalender afgemerk.
Ons skuld die jeug ’n storie wat van geslag tot geslag oorgedra moet word. Daarom het ek ’n storie in digvorm oor jeugdagviering geskryf.
My storie wil ek so begin: Goue lint, my storie begin(t). Dit word soms gebruik as iemand stories aan kinders vertel.
Die eerste jeugdagvieringe was fantasties, en tog het ek ’n leemte raakgesien in dié skouspelagtige gebeure. Ek het gesien hoe dié goedbedoelde feeste uit verband geruk word deur mense met politieke bymotiewe.
In my storie in digvorm praat ek oor die verwagtinge van die breë publiek, onder andere die jeug.
Ek het die gedig Simbole en simboliek genoem, juis omdat ek dit ervaar het as geldvermorsing en ’n verkwistende viering. Ek sê dit sonder benadeling van regte.
Ek het die gedig Simbole en simboliek genoem, juis omdat die voorstelling van hierdie vieringe ontaard het in ’n geldvermorsing, ’n verkwistende viering met afgesaagde vleierstoesprake – en dit sê ek sonder benadeling van regte.
Leë beloftes van egoïstiese grootpraters met leë beloftes aan die jeug, “ ’n dromende proletariaat”.
En nou ná 26 jaar dink ek terug aan die simboliese vertoning oor die vrylating van duiwe.
“Die vrylating van duiwe
het weinig te maak
met die vryheid van die jeug
“Die songlans skitter op
hul flappervlerke
silwer spikkels, melkwit snippers
as hulle hul in die nuutgevonde
ongebondenheid verheug.”
Vandag, 26 jaar later, herinner ek my aan die verbyvlug van die duiwe met sierlike maneuvers.
Ek ervaar weer 26 jaar later hoe skares gafassineerd, in ekstase kyk na die fladderspieël teen die lug se blou. Hoe die dromende jeug die leë beloftes beleef. Hoe ons jongmense deesdae “geketting” lê, werkloos, verslaaf aan dwelms, droomloos, visieloos. Wrokkig oor die mistifikasie wat die jeug se vryheid sinnebeeld.
Vandag ná 26 jaar voel ons leeg, verydel.
Ek hoop om met hierdie skrywe die jeug se oë oop te maak sodat ons nie met oop oë in vangstrikke trap nie. Ons kan nie bekostig om so naïef te wees nie. Nee, nee, nee!
Ek wil my storie afsluit met die woorde; “Goue kalf, my storie is half.” Of moet ek liewer sê: “Goue fluit, my storie is uit”?