DIE Oudtshoorn Polisie moes Vrydagaand (10 Mei) ses mense by die Bridgton Toeristeoord op Oudtshoorn verwyder nadat hulle nie ag geslaan het op ’n vroeëre waarskuwing aan besetters om die oord te verlaat nie.
Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was daar polisie-beamptes tussen 18:00 en 19:00 by die perseel en is die sowat 35 mense wat in daardie stadium die chalets beset het, gewaarsku om die perseel te verlaat aangesien die munisipaliteit ’n Hooggeregshofbevel verkry het wat die besetting en beskadiging van enige munisipale eiendom verbied.
“Met die polisie se terugkeer later die aand was daar nog ses mense oor. Hulle is op twee klagtes van minagting van die hof en betreding in hegtenis geneem.”
Die besetters, hawelose mense wat sowat vyf families insluit, het die chalets sedert 30 Mei beset en geëis dat blyplek by die toeristeoord aan hulle gegee moet word totdat die munisipaliteit alternatiewe blyplek vir hulle kan verskaf.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het die mense gesê hulle is agterplaasbewoners wat ’n paar weke gelede sonder enige kennisgewing deur huiseienaars uitgesit is en daarna op verskillende plekke moes slaap. (Deur Liesel le Roux)
Toeristeoord: Ses verwyder wat hofbevel ignoreer
