’n Slegte daad het altyd slegte gevolge

Deur Poem Mooney

Poem Mooney lig sy kommer oor sedelike verval

Ek het die afgelope naweek geworstel oor die sedelike verval in ons gemeenskap. Hier verwys ek spesifiek na die ontaarding van die goeie sedes.

Ek kan goed onthou hoe ons as kin­ders voortdurend aangepraat is om te hou by die goeie gewoontes waarmee ons grootgeword het.

Miskien moet ons sommer ’n eenvoudige woord gebruik – naamlik ma­nie­re; met ander woorde hoe jy jou moet gedra, hoe jy in jou ouerhuis ge­leer het om jouself in die gemeenskap te gedra.

Vandag vloek en skel jongmense soos matrose op die strate. Baie keer in die teenwoordigheid van grootmense.

Jongmense rand mekaar aan, sommige kere sonder rede.

Mense het redeloos geword. Dit is so asof hulle dwase dade pleeg wat uit redelose woede aan­gedryf word.

Bierbottels word uit motors geslin­ger, jongmense gooi bottels in die strate stukkend en jou motorbande moet dit dikwels ontgeld. Dit, hierdie vergrype, het deesdae die norm geword. Met an­der woorde, dit word deesdae as normaal gesien.

Ek ry elke dag verby die ou OKSK-gebou, die koshuis. Die plek is in ’n toestand.

Die ruite is stukkend gegooi, deure en vensters is weggedra. Om te drink, om te steel en te vat, word deesdae as normaal gesien.

Die koshuis moes boet as gevolg van ’n redelose woede, wat die gewone mens nie kan verklaar nie. Eintlik kan dit gesien word as wraak wat uit onverdiende vernynigheid gebore is.

Hierdie opvoedkundige inrigting het baie goeie onderwysers opgelewer. Man­­­ne, en toe later vroue, is hier opgelei en in hierdie koshuis het studente gewoon, wat van die lengte en die breedte van Suid-Afrika afkomstig was. Selfs uit Namibië het studente gekom.

Eintlik moes hierdie koshuis boet aan die hande van wraakgierige misdadigers.

Die groot hartseer egter is dat hierdie misdadigers nooit gestraf word nie. Dit is gesiglose mense uit ons eie omge­wing wat hierdie misdade gepleeg het, omdat hulle vergeet het hoe hulle opge­voed is.

Ek sal altyd wonder hoekom die skul­diges nooit gearresteer en of strafregtelik vervolg is nie. Die oumense het altyd gesê die gereg het ’n lang arm. Ek sal altyd wonder oor dié dade wat uit redelose woede gebore is.

Verlede Sondag het ek berusting gevind in ’n spreekwoord wat ek byna vergeet het. Ek het lank na die stuk­kende koshuis gekyk tot hierdie idioom by my opkom: Die knop is aan die end van die riem, menende: eindelik moet jy opdok vir jou dade.

Ek het onwillekeurig ook aan ’n ander spreekwoord gedink: Die kwaad loon sy meester, wat beteken: ’n slegte daad het altyd slegte gevolge.