Clivia-koning koop kwekery

Giovanni Bouwer is saam met sy pa Johan, die nuwe eienaars van KarooTuin Kwekery in Parkweg op Oudtshoorn. Foto: Stefan Goosen

GIOVANNI BOUWER (25), gebore en getoë op Oudtshoorn, se droom as kind om met blomme en plante van alle soorte te werk het in Maart vanjaar behoorlik begin blom toe hy en sy pa Johan KarooTuin Kwekery in Parkweg oorgeneem het.

Giovanni vertel dat hy reeds op 8-jarige ouderdom besef het hoe lief hy vir plante en blomme is, en sedertdien het hy nog nooit teruggekyk nie. Die oorname van KarooTuin, sê hy, is nou net die begin van ’n groot droom!

Hierdie jong antofiel (’n persoon met ’n voorliefde vir blomme en plante) sê dat sy belangstelling in blomme en plante oor die algemeen deels sy grootouers se skuld is. Hy het elke jaar vir sy oupa en ouma in Bloemfontein gaan kuier, en volgens Giovanni was beide lief daarvoor om in die tuin te werk; sy oupa was immers ’n boer en het hom geleer van saad saai en plante plant.

“Ek het toe net eendag in ons tuin op Oudtshoorn begin werk met wat ons gehad het, en van daar af het dinge net gegroei tot waar ek nou is,” sê hy.

Hy het oor die jare heen ook begin bekend raak vir sy Clivias. As 10-jarige het hy reeds met dié unieke blom kennis gemaak, en het toe Clivias begin kweek. Hy het selfs die plante en saad aan plantliefhebbers regoor Suid-Afrika en selfs die wêreld begin verkoop. Van dié saad het al in tuine in lande soos Spanje, Amerika, Australië, Italië, Rusland en die Verenigde Koninkryk beland.

Met die effek wat die afgelope paar jare se pandemie op invoere en uitvoere gehad het, het sy werk met die Clivias egter bietjie stiller geraak. “Ek sal weer volgende jaar begin uitvoer,” sê hy.

Die “ding” van plante wat Giovanni so opegewonde maak is dat jy kan sien hoe jou “belegging” van tyd en hulpbronne in die plant of blom groei. “Jy kan sien dit groei, en die effek wat jy op die plant het, en jy kan natuurlik die vrug daarvan pluk,” skerts hy. Die afwagting om die eindproduk te sien is net so opwindend, sê hy. Mens kan duidelik sy passie vir plante sien, en volgens Giovanni deel hy dit graag met mense.

Hy het verder ook groot planne vir sy kwekery, en kan nie wag om uit te brei nie. Tans verkoop hy wel net plante wat hy elders aankoop en so paar wat hy tuis kweek, maar sy doel is om moontlik ’n stuk grond aan te skaf waar hy self op grootmaat plante kan groei om te verkoop. Hy wil ook naderhand nog takke in ander dorpe oopmaak. “Daar is defnitief ’n toekoms vir kwekerye. Ek sien al hoe meer jong mense wat in plante begin belangstel; tuinmaak is nie net meer vir die ouer garde nie. Mens raak meer deel van die natuur as jy in jou eie tuin werk, dit is baie ontspannend en ‘fulfilling’, en ook terapeuties.”

Om uiteindelik die eienaar van sy eie kwekery te wees, sê Giovanni, is baie lekker, maar ook harde werk. “Ek werk wel so lekker, dit voel soms nie eens soos werk nie!”

• Giovanni het sy skoolloopbaan by Laerskool Wesbank begin, en in 2015 by Langenhoven Gimnasium gematrikuleer. Selfs hier was sy hoof- belangstelling plante. “Dit was die fokus van my lewe!”

Hy sê dat hy na skool geen kursusse kon vind waarin hy belang gestel het nie, en dus het plante en blomme sy bestaan oorgeneem.

• KarooTuin is in Parkweg, reg langs die Klein Karoo Agri-vulstasie.
Skakel 071 874 8569. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Clivia-koning koop kwekery"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*