Dit is die jaar 1977. Ek is in my tweede jaar op Tukkies. Die akademie trek maar swaar, want ek weet ek beter goed presteer of ek verloor my Yskorbeurs en dan moet ek gaan skofte werk in Yskor se ysterertsmyn by Thabazimbi… Glo my, dit was nié deel van my toekomsplanne nie!
Soos die lewe maar is, verg dit balans tussen die studie, rugby en natuurlik “social” ook. Die studentelewe is darem meer as net die akademie, maar pas maar op vir die “social” deel … dit is soms geneig om jou met ’n slap riem te vang!
Ingenieurshuis en Boukunde het destyds saam ’n span in Tukkies se koshuisliga gehad. Dit was groot pret en die ligawedstryde is Vrydagaande op die rugbyvelde by die LC de Villiers-sportterrein onder spreiligte gespeel – soms in rokerige en bitter koue weer so eie aan die winteraande op die Hoëveld.
En so beplan die manne ’n rugbytoer Boland toe. Ons gaan teen Moorreesburg en Ceres se dorpspanne speel en daarna na Stellenbosch vir die Intervarsity tussen Tukkies en Maties op Coetzenburg.
Op daardie ouderdom is jy “bullet proof” en lang dae skrik jou glad nie af nie. Die week voor die toer is ek saam met Romana se familie Knysna toe op vakansie. Ons kom laatmiddag in Pretoria aan na so 13 ure op die pad en ek is omtrent direk daarna na die bus toe waarmee ons Kaap toe sou gaan…
So ’n busryery met ’n horde ander jong, energieke, kuierhonger ingenieurstudente is nie vir sissies nie. Dit gaan maar rof en die manne kuier verwoed en aanmekaar.
Na 18 ure ry ons uiteindelik Beaufort-Wes binne. Die bus is vol rommel en ons moes stilhou vir ’n skoonmaak, kos- en “blaas”-breek. Nadat die vuilgoed afgelaai en nuwe voorraad opgelaai is, was ons weer op pad.
Ek onthou die plakkate langs die pad baie goed toe ons Moorreesburg inry: Tukkies teen Dorpspan. Dit lyk indrukwekkend, maar ons klomp was allermins die Tukkiespan!
Dit was ’n aandwedstryd en ons almal is gereed en opgewen om ’n lekker game te speel.
Die game is taai en ons sukkel so effens teen die ouer manne van Mooreesburg. Ek is die haker en deel van my werk was natuurlik om die opponente se skrumskakel onder druk te hou en lastig te val by die lynstane. Ek doen goed en die ou raak later heel opgewonde oor die volgehoue druk.
Toe verander dinge egter vir my toer…
Ek storm soos gewoonlik op hom af, maar beland op die grond. Hy draf by my verby en “ankle-tap” my hard met sy regtervoet in die gesig in die verbydraf. Ek het dadelik geweet ek het moeilikheid.
Die noodhulpmanne moes kom help om die bloed te stop, want my neus bloei verskriklik. Na wat soos ’n ewigheid se yspakke op my nek en gesig gevoel het, voel ek beter en kan darem regop sit.
Ons kaptein stap uiteindelik nader.
“Hoor hier, man, ek dink my neus is gebreek,” sê ek vir hom.
Hy kom staan voor my en vat my kop tussen sy hande om die simmetrie van my gesig stip te bestudeer.
“Nee wat, jy lyk oukei, Johan. Stop net die bloedgemors en dan maak ons die game klaar.”
Wel, as hy so sê, is dit seker maar reg. Ek speel die game klaar met twee dik watteproppe in my neus en kan nie wag om in die kleedkamer te kom nie. Mens ken jouself en ek weet alles is nie pluis nie.
Een kyk in die spieël bevestig alles. My neus is heeltemal gebreek en sit omtrent op my wang! Soveel vir my “cappie” se opinie!
Ons kry ’n dokter onder die toeskouers en ek is saam met hom na sy spreekkamer toe. Hy druk ’n blink ysterstafie in my neus in en skuif die neus sonder seremonie terug op sy plek. Al wat ek onthou, is ’n girts-klank en ’n nuwe stortvloed bloed!
Ek weet tot vandag toe nie wat die dokter se naam was nie! Wat ek wel onthou, is hoe ons lekker gelag en gesels het oor alles voor ons terug is onthaal toe.
Die onthaal was natuurlik omtrent verby toe ons daar aankom. Dis maar hoe dit soms gaan. Die mense van Moorreesburg se gasvryheid was egter grensloos en ons is soos konings ontvang.
Ek kon nie die volgende game teen Ceres se dorpspan speel nie en het ek maar alles van die pawiljoen af ervaar. Let wel, met twee baie blou oë en ’n baie dikgeswelde neus. Die gasvryheid na die game was weer eens eersteklas.
Dit raak nou al lank gelede en die lewe het my sedertdien al ’n paar “ankle-taps” gegee, party harder en meer moedswillig as ander. Maar, hulle sê mos dit wat jou nie doodmaak nie, maak jou sterker.
Ek moet tog eendag weer daar ’n draai gaan maak en rugby kyk. Miskien is die dokter nog daar rond op Moorreesburg. Miskien onthou van die manne dalk nog dié dag. Wie weet?