Wynprodusente byeen
DIE prysuitdeling van die Klein Karoo Jongwynskou is op Donderdagoggend, 18 Augustus, by die Calitzdorp Wynkelder aangebied.
Die beste jong wyne uit die streek vir 2022 is gekies en prestasiesertifikate is aan deelnemers oorhandig, sowel as trofees vir die beste wyn uit elke klas, ’n trofee vir die algehele groot kampioenwyn van die dag – ’n Colombar uit Montagu – en trofees vir die Kampioen Produsentekelder en Kampioen Privaatkelder.
’n Formele wynproe van geselekteerde wyne is ook aangebied en alle klaswenners en trofeewenners is later informeel te proe aangebied in die kelder se direksielokaal.
Die middagete, geborg deur Vinochem, is op Calitzdorp Kelder se stoeprestourant geniet.
Wynkelders vereer vir Klein Karoo se top-wyne
Verskeie produsente uit die Klein Karoo het met die nuwe wyne van 2022 aan die Klein Karoo Streeks-jongwynskou deelgeneem en die uitslae is op Donderdag, 18 Augustus, tydens ’n gesellige funksie by Calitzdorp Wynkelder bekendgemaak.
Die Kampioen Produsentekelder vir die tiende agtereenvolgende jaar is Montagu Wynkelder wat uitsonderlik gepresteer het.
Montagu het die Kampioenwyn (Kampioen Droë Witwyn, die Kampioen Colombar), die Kampioen en Reserwe Kampioen Muskaat Versterkte Wyn, die Kampioen Droë Rooiwyn (Kampioen Merlot), die Kampioen Ruby Cabernet, die Kampioen en Reserwe Kampioen Shiraz, die Kampioen Pinotage, die Kampioen en Reserwe Kampioen Chenin Blanc, die Kampioen en Reserwe Kampioen Chardonnay, die Reserwe Kampioen Colombar, die Reserwe Kampioen Droë Witwyn (Kampioen Sauvignon Blanc) en die Reserwe Kampioen Sauvignon Blanc, wat gedeel is met De Krans Wynkelder.
De Krans is ook as die Kampioen Privaatkelder aangewys en het die Reserwe Kampioenwyn (Kampioen Nie-Muskaat Versterk en die Reserwe Kampioen Nie-Muskaat Versterk opgelewer.
Die Reserwe Kampioen Produsente Kelder is Calitzdorp Wynkelder met die Reserwe Kampioen Droë Rooiwyn (Reserwe Kampioen Merlot), Reserwe Kampioen Ruby Cabernet asook die Kampioen en Reserwe Kampioen Natuurlike Soet-wyn.
Jakkalsvlei is die Reserwe Kampioen Privaatkelder en het die Kampioen Cabernet Sauvignon gelewer.
Vind meer uit oor die streek en sy wyne besoek Klein Karoo Wines gerus by www.kleinkaroowines.co.za.
