Ek is geseën met ’n wonderlike en interessante vliegloopbaan. Daar is ouens wat nie daarvan hou om alleen te vlieg nie, maar ek was gek daaroor! Ek het baie, baie trippies met passasiers gevlieg en dit vereis natuurlik ’n hoër mate van verant- woordelikheid van die ou in beheer van die vliegtuig. “After all” daar is ’n klomp mense wat hulle veiligheid ten volle aan jou toevertrou vir die duur van die vlug.
Daar was veral twee vlugte in Mosambiek wat ek geniet het om alleen te vlieg en gelukkig het ek nogal gereeld daardie geleentheid gekry. Die een was van Beira Internasionale lughawe na Nhago (ons landingstrook by die jagkamp). Dit was nie ’n lang vlug nie, so 30 minute of so. Die ander een was van die jagkamp af, direk oor die see- of al langs die pragtige kuslyn af, na Vilanculos lughawe, so ’n uur weg met die Aerostar.
Die Zambezi delta is ’n pragtige plek, grootliks ongerepte wildernis en so plat soos ’n pannekoek met geen torings, drade, geboue of enige ander mensgemaakte hindernisse nie. Dit maak veral helikoptervlugte baie veilig daar. In die Aerostar, teen sowat 400 kilometer per uur, is dit effens anders en moet jy baie mooi kyk vir voëls – aasvoëls, reiers, pelikane en ander groot voëls wat in groot getalle hoog vlieg in sulke statige lang draaie. Om in so ’n groot voël vas te ry kan katastrofies wees.
Daar is een so ’n vlug wat my altyd laat glimlag. Ek het die Vrydag met ’n klomp proviand ingevlieg kamp toe, en die plan was om saam met die vier manne wat in die kamp was hulle safari af te sluit en sou ons die Maandagoggend vroeg weer uitvlieg om hulle die aand op die vlug te hê Amerika toe, huis toe. Die groep manne wat in die kamp was, was baie “lewendig”, het hard gejag maar ook hard gekuier om die kampvuur…en die voorraad 2M het maar swaar gekry. (Vir dié wat nie weet nie, 2M is ’n baie lekker en populêre plaaslike bier.)
In die kamp het ek soos gebruiklik my “rondtes” gedoen saam met Marius, my senior beroepsjagter en regterhand in Mosambiek. In die spens sien ek toe dat die biervoorraad net-net een aand se kuier gaan oorleef. Blykbaar was die voorraad in Caia (die naaste plekkie waar ons kon bier en ander basiese goed koop) uitgeput. Die volgende plek is Chimoio, 425 km vêr en ’n moordende 18 uur dag om heen en weer te ry. Nie ’n opsie in ’n besige jagkamp nie.
Nou ja, dan moet die bier maar ingevlieg word. Ons maak reëlings op die satellietfoon met ons kontak in Beira. Soos dit gaan in Mosambiek is niks maklik nie en die lughawe het al weer nie brandstof nie. Ek sal moet ingooi om Maandag terug te kom in Suid-Afrika. Die tweede keuse is dus Vilanculos, verder af op die kus en deel van ’n pragtige stukkie Afrika.
Nou ja, so gesê, so gedaan! Die volgende oggend sit ek maar die jag uit en gaan aanloopbaan toe om die Aerostar se agterste vier sitplekke uit te haal en hom vol kaste met leë 2M bottels te laai. Sommer die bagasieruim ook. Dit was nogal iets om te ervaar en jy kon nie anders as om te glimlag nie. Dit is baie bierbottels.
Die Saterdag was ’n pragtige, stil, skoon dag en perfekte vliegweer – en daar gaan ek Vilanculos toe, eers reguit Beira toe en van daar af al langs die kus af. Ek geniet sommer die hele ervaring so op my eie en verwonder my aan die pragtige, spierwit lang kuslyn. So nou en dan is daar iets op die radio maar nie vir my nie. Die landing in Vilanculos is sommer reguit in van baie vêr af en heeltemal roetine. Ek kontak my ”agent” in die dorp om te kom help en gooi solank brandstof in, parkeer en wag.
Na so halfuur kom daar ’n rokerige, ou roesbruin paneelwaentjie daar aan en ons laai die klomp kiste met “empties” daarin. Ek ry saam winkel toe – natuurlik omdat ek moet betaal! Ons doen die transaksie, laai af, vol kiste op en sit af terug lughawe toe. Die klomp by die lughawe is natuurlik baie geamuseerd met die vrag bier wat ek oplaai en hulle lag te lekker. Alles gelaai, die agent iets gegee – niemand daar doen iets verniet nie – die goed mooi vasgemaak binne die vliegtuig en daar gaan ek.
Die beheertoring klaar my en ek trek weg, klim tot op 200 voet (so 60 meter) en sit reguit af kamp toe. Sommer gou verdwyn die kuslyn oor my linkerskouer. Dit is die skoonste en eindelose blou bo en onder jou sovêr as jy kan sien. Asemrowend pragtig en nogal opwindend. Ek luister na Rocket Man van Elton John kliphard op die Aerostar se klankstelsel …
“And I think it’s gonna be a long, long time
‘Til touchdown brings me ’round again to find
I’m not the man they think I am at home
Oh, no, no, no
I’m a rocket man
Rocket man, burning out his fuse up here alone.”
Ek glimlag oor alles, sommer so op my eie. Te gou is die eie tyd verby en die kuslyn kom al weer nader en gou daarna moet ek begin regmaak om te land by die kamp. ’n Rukkie later is daar veilig geland, alles afgelaai en aangery kamp toe.
Ek kyk die stapel bierkiste in die stoor aan en besef wat sopas hier gebeur het is nou nie wat ek sou noem die tipiese ou se Saterdag nie. Ek kan nie help om te wonder wat die mense sou gedink het as ek ’n ongeluk sou maak en hulle kom op dié spul af nie!

Bo: Mosambiek se kuslyn. Onder: 2M Bier. Foto’s Johan Strasheim
