Briewe van lesers: 17 Augustus 2023

Verval van Oudtshoorn

As boorling en oud-inwoner van die eertydse pragtige Oudtshoorn, is dit vir my hartseer om te aanskou hoe die dorp verval het die afgelope paar jaar. Die strate is in ‘n haglike toestand – vol slaggate, bykans onherstelbaar.

Spoedwalle onsigbaar, so ook sommige padtekens. Geen potensiele belegger sal belangstel om in so ‘n vervalle dorp te wil belê nie. Met die ontwikkeling en instroming van mense na die Suid-Kaap, sou ek dink dat Oudtshoorn baie geleenthede en potensiaal bied.

Belastingbetalers van die dorp het tog die reg om ‘n mooi dorp met goeie dienste en heel strate te beleef.

My groot versoek is dat die STADSVADERS ASSEBLIEF, ASSEBLIEF POLITIEKE GESKILLE, OF WAT OOKAL, OPSY SAL SKUIF EN KONSENTREER OP DIE HERSTEL VAN DIE DORP TOT DIE OUDTSHOORN VAN OUDS. Groot, groot asseblief.
– Helgard Meyer

Terugvoer vanaf die Burgemeester:

Ek stem saam dat ons paaie vol slaggate is en padtekens nie op standaard is nie. Die probleem se omvang is egter baie groter as wat dit net ooglopend vertoon. Ek het die afgelope paar weke alreeds die vier teerspanne wat ons gehad het vermeerder na 10. Ons het ons eie teerstasie opgerig om self teer te vervaardig sodat ons vinniger herstelwerk kan doen.

Ek het ten spyte van weerstand ekstra oortyd toegestaan sodat die teerspanne Saterdae ook kan werk aan die paaie.

Ons het voltydse spanne aangestel om die verkeers-tekens te verf en sukkel om voor te bly met staal padtekens wat onophoudelik gesteel word.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van Oudts-hoorn dat ons so baie reën (meer as 200mm in slegs drie maande) oor so ’n kort tydperk gehad het. Ons prys die Heer daarvoor en is dankbaar maar dit het groot skade op ons paaie tot gevolg gehad.

Ons stel weekliks programme saam vir elke departement om die skade te herstel en fokus tans net op ons hoë verkeersroetes. Ons gaan ’n addisionele R23m. spandeer om die noodsituasie aan te spreek.

Ek is dankbaar en trots op al die inwoners wat reeds ingespring het en slaggate in die woongebiede help herstel het. Daar is ongelukkig nie “quick fixes” nie en ons pluk nou die wrang vrugte van ’n infrastruktuur wat jare lank verwaarloos was. Ons het ook meer as R10m be-groot om van die ou asbespype te vervang wat bydra tot die slaggate in ons paaie.

Ek probeer om sover moontlik die publiek ingelig te hou en het ’n Faceboekblad as burgemeester begin om beter te kan kommunikeer. Ek wil net byvoeg dat wanneer dit kom by dienslewering is al 25 van ons raadslede dit eens dat ons politiek eenkant toe skuif en saamwerk om die dorp reg te ruk. Dankie vir jou besorgdheid en weet ek en ons hele span wil ons dorp weer ’n dorp waarop almal trots kan wees, skep.