Kingdom News: Jesus is regtig genoeg

Pastoor Francois Mattheüs, AGS Klein Karoo Gemeente. Foto verskaf

’n Tyd gelede het ek ’n preekreeks uit die boek Kolossense gedoen. Ek het besef dat baie Christene tans met presies dieselfde teologiese probleem sit waarmee hierdie Christene in Kolosse gesit het. Hulle het die goeie nuus van Jesus Christus gehoor en hulle lewens aan Hom oorgegee en Hom gevolg.

Daar kom toe ander leermeesters en begin vir hulle vertel en oortuig dat alhoewel hulle Jesus Christus aangeneem het en Hom nou volg, hulle moet besef dat hulle steeds ook al die ander dinge van die wet en die geloofstradisies moet bly navolg sodat hulle in ’n verhouding met God kon bly staan.

Dit was asof die boodskap soos volg was:
“Jesus is aanvaarbaar maar Hy is nie heeltemal genoeg nie…julle het meer nodig.”

Vandag sien ek hoe hierdie selfde sienswyse ook in ons moderne samelewing oorgedra word. Christene volg Jesus en bely Hom as Here en Verlosser van hulle lewens, maar dan voeg hulle allerhande ander “ekstras” by asof hierdie bykomende dinge hulle die totale versekering gee dat hulle God ten volle behaag en deur hierdie rituele na te streef, Sy hart leer ken.

Paulus skryf in Kolossense 2:10, “En julle is volmaak in Hom.” Dit beteken presies wat dit sê: die genoegsaamheid van Christus. Jy is, vanuit ’n geestelike oogpunt, volledig in Hom. Die hooftema van die Nuwe Testament word in daardie frase vasgevang en verwoord. Alles van Matteus tot Openbaring spreek tot die kwessie van die genoegsaamheid van Jesus Christus. Hy is genoeg. Niks ekstra is nodig nie. Inteendeel, enige ekstra bykomstighede gee die indruk dat Hy nie genoeg is nie en dat die prys wat Hy betaal het, nie voldoende is nie. Dit is in wese ’n belediging teenoor die afgehandelde werk van Jesus Christus.

In 1 Korintiërs hoofstuk 1:30, skryf die apostel Paulus, “In Christus het ons alle wysheid en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.”

In 2 Korintiërs 12:9 staan daar: “My genade” – dit is die genade van God in Christus – “is vir jou genoeg”.
In Efesiërs 1:3 staan daar: “Ons is in Christus geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus Jesus.”

Hebreërs 10:14 sê: “Deur een offer het Hy die wat Syne is, vir altyd volmaak, of die wat Syne is vir altyd geheilig.”

Al hierdie skrifgedeeltes praat oor die totale genoegsaamheid van Jesus Christus vir elke behoefte, geestelik gesproke, in tyd en ewigheid. En daar bestaan geen duideliker stelling as dié van Kolossense 2:10 nie: “Julle is volmaak in Hom.”

Om die Here Jesus Christus te hê, is om alles te hê wat nodig is ons geestelike lewe vir tyd en ewigheid.

Om Hom te hê is om alles te hê, om Hom nie te hê nie is om absoluut niks te hê nie. Alle vreugde, vrede, waardes, doelstellings, hoop en vervulling in die lewe nou en vir altyd is in Christus Jesus vervat. Wanneer ’n persoon Jesus Christus as Here en Verlosser ontvang, staan hulle in ’n genoegsame verhouding met ’n totaal genoegsame Christus Jesus.

Paulus skryf juis aan die Kolossense omdat hulle geïntimideer is deur hierdie bykomende leerstellings. Hulle is geïntimideer deur mense wat vir hulle gesê het dat Christus nie genoeg was nie, dat Christus nie voldoende was nie.

Hulle moes rasionalisme navolg. Dit was Christus plus intellektualisme, Christus plus filosofie. Dit was Christus plus seremonies, wette en reëls en rituele en dit was Christus plus mistieke ervarings en ontmoetings met engele.

Dit was Christus plus of Christus en.

Daarom skryf Paulus hierdie brief aan hulle om vir hulle te sê dit is Christus plus niks, en om die leuen van hierdie dwaalleer uit te wys.

Die begin van Paulus se argument vind ons reeds in hoofstuk 1 vers 14 waar Paulus sê: “in wie,” – dit is in Christus, waarna verwys word as sy dierbare Seun in vers 13 – “in wie ons die verlossing het deur sy bloed, ja, die vergifnis van sondes, wat die beeld is van die onsigbare God, die een wat die hele skepping bymekaar hou.

Vir die mense van Kolosse is vertel dat hulle iets meer as net Jesus Christus nodig het om God te ken, iets meer as net Jesus Christus om ’n volmaakte mens te wees in God se oë, iets meer as net Jesus Christus om die magte van sonde, die magte van die bose te kan verslaan. Meer as net Jesus Christus om verlossing te hê, iets meer as net Jesus Christus om ware spiritualiteit te hê. Jesus Christus was dus nie voldoende nie.

Hoekom is dit dat die mens altyd die waarheid, die eenvoudige waarheid van Christus Jesus, verdraai deur sy eie redenasies by te voeg? Die redenasie van die mens kan geensins opweeg teen die eenvoudige waarheid van die Evangelie nie.

Diegene wat menslike wysheid wil byvoeg is al sedert die begin daar, en hulle is vandag steeds hier, en hulle wil hê ons moet glo dat Christus nie genoeg is nie en as jy hierdie eenvoudige kinderlike geloof het wat slegs Christus Jesus omhels, is jy ’n soort verstandelose persoon, ’n soort anti-intellektuele persoon wat te kort skiet aan wat dit vereis om God te behaag.

Moet vir geen oomblik glo dat wanneer jy Jesus Christus ontvang, Hy maar slegs een of ander beginpunt is, en jy ’n hele klomp ander goed uit die wêreld of die wet / tradisies bymekaar moet maak om jou lewe af te rond nie. Hy is al wat ons nodig het, Hy is heeltemal genoegsaam, Hy is oor almal en ten volle in beheer. In Hom word alle dinge bymekaar gehou. Sy kennis oortref menslike kennis, dit oortref bonatuurlike kennis.

Daar is diegene wat vir jou sal sê dat Christus Jesus aanvaarbaar is en dat jy tot hier toe goed gedoen het om Hom as Here en Verlosser van jou lewe te hê, maar dat jy nie net kan verwag dat Christus Jesus bloot jou sonde vergewe het nie. Daar is godsdienstige dinge wat jy ook moet doen om die prentjie volledig te maak. Dinge soos se-remoniële en ritualistiese instellings asook werke sodat God met jou tevrede kan wees. Die gevolg hiervan is dat mense wat in Christus Jesus glo, dan probeer om hul pad in die koninkryk te verdien deur rituele en wette by te voeg.

Wanneer ons Christus ontvang, ontvang ons volkome verlossing. Dit is verlossing van die dood en die magte van sonde, verlossing van die wet en rituele wat elk geval nooit voldoende was nie. Ons ontvang volkome vergifnis vir al die dinge wat ons gedoen het en waar ons die wet van God oortree het, en ons ontvang volkome oorwinning oor die magte van die bose en alle ongeregtigheid.

Waarom sou jy iets hierby wou voeg om God te probeer beïndruk? Jesus Christus het alles klaar gedoen en dit is genoeg en voldoende vir elkeen! Hou jou fokus op Jesus. Hou aan Hom vas en laat toe dat Hy jou rig en lei deur Sy Heilige Gees. Wanneer dit gebeur, leer ken jy God se hart en besef jy dat Christus se afgehandelde werk oorgenoeg is om God te behaag. (Deur Francois Mattheüs)