’n Man van faam

Deur Poem Mooney

Die beurtkrag het ’n ongemaklike manier om jou van jou beker vroeë oggendkoffie te beroof, maar dit kan jou nie die vreugde van ’n vroeë oggend gesprek beroof nie.

Ek het verlede Woensdag vir my ’n drie-plaat gasstofie gekoop en ek het vanmôre vroeg ’n koffie afspraak met Ousie Roeslyn gehad. Toe ek vanmôre die selfoonliggie by die tuinhekkie gewaar, was ek gereed om haar te bedien met ’n stomende koppie moerkoffie.

Ek het haar gevra of sy nog vir oom Booi Mei onthou. “Natuurlik, Gert,” het sy geantwoord. “Jy weet dan hy was ’n dekselse goeie musikant. Almal het hom mos geken op sy noemnaam, ou Plekkie Water.”

Sy het behaaglik geteug aan die lekker warm koffie. “Die mense,” het sy voortgeborduur op haar storie, “het baie stories oor oom Booi versprei. Daar was diegene wat geglo het oom Booi het sy musiek by die duiwel op die kruispad geleer. Ander mense het vas geglo dat hy sy musiek met towerkrag uit die snare van sy kitaar kon haal.”

Ousie Roeslyn het so ’n aansteeklike kekkellaggie gegee, dat ek nie kon help om saam te lag nie. “Jy weet, Gert, die manier waarop hy hom verdiep het in sy spel, en die ritmiese opvervolging van die musikale tone in ’n logiese afgeronde orde, het baie mense stomgeslaan, want ou Booi Mei was in die oë van baie mense maar net ’n ongeletterde skaapskeerder.”

Sy het diep gesug, ’n oomblik asem geskep en voortgegaan met haar storie. “Weet jy, Gert,” het sy gesê, en ek het ’n effense weëmoedige toon in haar stem opgetel: “Ou Booi Mei, of ou Plekkie Water, het nooit in sy lewe erkenning ontvang vir die wyse waarop hy sy musikale talent bedryf het, en van sy faam oftewel sy vermaardheid sou mense lank na sy dood eers bewus word.

Ek persoonlik het baie van die danse bygewoon waar hy gespeel het, en ons weet dat hy ’n repu-tasie gehad het dat almal wat geluister het, gedwing was om te dans.”

Die mense het vir die waarheid vertel, dat as oom Booi langs ’n waterpoel gaan hurk het, dan speel hy gewoonlik die een lied na die ander. Dit was almal versies wat hyself uitgedink het. Liedere met die lieflikste akkoorde wat net hy en hy alleen geken het.” Ousie Roeslyn het ’n ver-af uitdrukking in haar oë gehad. “Jy weet, Gert, die mense het my vertel as die ou man vir ’n ruk lank so gespeel het en die kitaar se laaste klanke sterf weg, dan was daar nie ’n enkele druppel water in daardie poeletjie oor nie. Vandaar sy bynaam.”

“Weet jy, Gert, sulke wonderlike musikante het ook maar ’n swakheid.”

“Hoe so, ousie?” het ek haar gevra. “Watter swakheid, het die ou siek geraak?”

“Is jy verspot, Gert?” het ousie verontwaardig uittgeroep. “Jy weet daar was ’n tyd toe oom Booi van die toneel af verdwyn het en toe op ’n dag by my tante op Friesland, Bakenskraal se spoorwegstasie opgedaag het. Hy het met ’n donkiekar gery. By hom op die kar was so ’n gelerige bastervrou.

“Sy vrou, ousie?” het ek gevra. “Nee jong, ek ken haar nie, of altans ek het haar nog nooit vantevore by hom gesien nie. Dit was nogal ’n mooi vrou. Almal van ons was onder die indruk dat hy die vrou van sy keuse ontmoet het, ons was onder die indruk dat hy wou huis opsit, want bo-op die kar was goeie meubels, breekgoed, klerasie en kos. Oom Booi se fiets was agter die Karet se raam-werk vasgemaak.

Onder die buikplank van die kar se bak was ’n hoenderfuik met drie hoenders.

Ek wonder tot vandag toe nog hoe die mense so gou verneem het dat oom Booi in die rondte was nie, want daardie aand het die mense in groot getalle by my antie se huis opgedaag.

Oom Booi was soos gewoonlik meester van die situasie. Die mense het gedans dat die sweet hulle aftap.

Soos gewoonlik was hy so verdiep in sy spel dat hy nie eens bekommerd was oor die tyd en die plek nie.
Die mense was in ekstase op die baan. Dit was toe dat my tante begin uitvra oor die geel bastervrou.

“Ou Niggie,” was die musikant se antwoord: “Sy is van Campher in George se wêreld. Ek het daar gespeel by ’n bruilof vir so twee dae en jy weet mos hoe die mense is. Toe ek ry, toe wil sy opsluit saam. Sy is ’n weduweevrou en daarom het sy sommer alles ingepak. Dit is alles hierdie ou kitaar se skuld, en toe vat oom Booi so ligweg oor die rieme, sommer so met die vatslag, die wonderlikste akkoorde saam.”

“Booi!” het my tante driftig uitgeroep: “nie onder my dak met ’n vreemde vrou nie! Julle is mos nie getroud nie, nê?!”

Oom Booi het geantwoord met een van sy mooiste liedjies. Dit was oor sy towerliedjies wat hy opgeskeep gesit het met die geel bastervrou. Sy kitaar, sy hoenders en sy huis opsit meubels. My tante was baie beslis toe sy oom Booi oorslaapplek geweier het.

“Ek was baie hartseer oor oom Booi en die mooi geel bastervrou.” Ek het lank buite gestaan en die donkiekar agterna gekyk totdat dit met die sombervrag George toe gery het.