Briewe van lesers: 3 Augustus 2023

Antwoord op werwelrige brief van 27 Julie 2023

Sjoe! Ek kan seker begin deur na die ANC- begroting van 27 April 2022 te verwys wat baie goed met die huidige begroting vergelyk (of ek saam met beide stem of nie, is nie nou ter sake nie).

Of die bewese feit dat DA-munisipaliteite en provinsie beter bestuur word as die res.

Of wat daarvan om na die ANC te verwys waar triljoene rande verkwis is. Maar kom ons bly hier by Oudtshoorn.

Die sg. gratis dienste (elektrisiteit, water, riool, vullisverwysering) was nog nooit, nie eers in die ANC se bewind werklik gratis nie.

Iemand betaal vir die dienste wat gratis aan ander beskikbaar gemaak word.

Die iemand is op plaaslike vlak die 51% beta-lende inwoners en op nasionale vlak die werkendes se inkomstebelasting en ander belastings wat deur die regering gehef word en die jaarlikse toewysing van die Tesourie.

Wie ook al van totaal gratis dienste verskaf aan die armes praat, het geen benul van ekonomie nie, en is die een wat stemme werf deur iets te belowe wat ander se beursies moet betaal.

Terwyl ek nou van ander se beursies praat.

In die Groter Oudtshoorn word daar geweldig eise gestel aan die munisipaliteit, sommige sake wat totaal en al buite hul jurisdiksie val.

Dan word daar graag op sosiale media aanvalle geloods as die munisipaliteit aan die duskant herstelwerk doen deur na die ander kant se omstandighede te verwys, waar weliswaar ook benarde omstandighede is.

Dan ry ek daar, en sien hoe morsjorse bloot hul papiere neergooi, hoe vandalisme infrasruktuur beskadig, hoe infrastruktuur gesteel word.

Dan is ek wrewelrig, nee woedend! oor die aansprake, nee, die “utter entitlement”.

Dan weier ek om skuldig te voel as die munisipaliteit aan die duskant werk, as betaler is ek ook daarop geregtig. Dan wil-wil ek halstarrig raak.

Dalk moet die briefskrywer aanbied om te help om die begroting op te stel.

Maar neem in ag, as een van die 51%-betalers is ek keelvol vir meer betaal – gaan vind die geld elders.
Ek is keelvol vir eise vir na-uurse herstelwerk en dan klagtes oor oortydbetalings. Ek is keelvol.
– Nettie Hough

Munisipale terugvoer op brief van 27 Julie
Beste Me Hough,
Alhoewel u skrywe nie aan my kantoor gerig is nie, wil ek u tog bedank vir die insiggewende skrywe. U neem ’n sensitiewe en emosionele kwessie goed saam en gee op deurdagte wyse u eerlike mening wat die teenkant van ’n saak stel. U lewer ook positiewe kritiek op verhogings wat u en ander belastingbetalers raak, maar gee ook erkenning aan die uitdagings waarmee die munisipaliteit te kampe het.

Daarvoor het ek groot waardering.

– Chris Macpherson, Uitvoerende burgemeester