Deur Tania Smit
Ek vermoed daar skuil ’n draak in my.
Dalk is dit ego, dalk die inner child, maar wat haar naam ook al is, daai ondier spring soms uit en begin met my lippe praat, en met my ore hoor en met my kop dink. Sy is ’n dierasie, en ’n lelike besigheid, maar tog so onherroeplik verweef in my menswees.
Ek skree gisteroggend op die kinders. Nie ’n elegante Mejuffrou Suid-Afrika- gilletjie nie, maar ’n lelike comrades- skree met kleintongetjie wat tril en trane en ’n stem wat twee kante toe gaan op dieselfde tyd. Oor skottelgoed wat staan en asblikke wat oorloop, en bolle wat lê, en orde wat altyd net iewers om die volgende draai is, maar nooit hier in ons huis nie. En ek sien hoe my veneer afkom, en hoe die leksels vlamme uit my hart uit wriemel vir lug, en opkom vir asem deur my tong.
En terwyl die geraasdes skarrel vir voorkom gaan sit ek op die bank, vir asem, en lees die ongelooflike huilmooi boodskappe wat my Hekelwoorde vir lesers beteken. Briewe geadresseer aan my engel. Terwyl my draakstert nog in die kombuis op die vloer klap, toe is die engelkrans op my kop.
Die beleef daarvan het my bloed laat stol.
Die Yin en die Yang, die Lig en die Donker, die Happy and die Sad. Beide teenwoordig. In my lyf. Presies op dieselfde tyd!
En ek wroeg daarna heeldag. Oor hoe my Oos so ver van my Wes af kan wees. Oor hierdie lelik in my wat ek nie oorwin kry nie.
Oor my flippen feilbaarheid, wat gewoonlik uitspring as die wêreld se grense vir my te ver begin strek. As my arms te kort voel, en my woorde te min raak.
Ek haat haar, daai draak. Sy maak my skaam, en laat my feilbaar. Maar ek besef gister sy is ook my Warrior, wat voor kom veg as my Sagwees te op is. Sy is die laaste Bastion, wat sal verrys uit die donker voor die poorte na my Stad afgebreek word.
En terwyl ek handevol van my waardigheid in daai geveg weggooi, kom staan sy voor my met haar swaard, om my hart te beskerm. Om my dapper te help staan. En sy kom altyd terug van die slagveld en kom sit my weerprobeer weer voor my neer, met ’n dienende hart. Sy, die Bewaker van my Stadsmure, my grense.
En teen vanoggend sê ek dankie. Aan haar, my onmanierlike gedierte. Wat altyd geduldig wag tot die laaste ordentlike soldaat geval het, voor sy oprys en haar vuur kom spoeg.
En ek omvou haar. Want sy is ook myne. Geplant in my hart vir beskerming. En ek sal tyd met haar vertoef, en haar taal leer praat. Dat ek haar soms kan gerusstel dat ek oukei is. En kan hoor as sy iets het om te sê. Sodat ons kan leer saamwerk, ek en sy. Want elke draak het ’n leier nodig, en ek sal my draak se leier word.
En ek sal haar liefhê, al maak sy my skaam. Want haar uitkom is min, en dapper, en fors. En nodig. En haar omgee vir my is grensloos.
Vir haar, Bewaarder van my Grense, Warrior van my Stadsmure, sal ek haar liefhê.