Verandering van dié straatnaam?
Na aanleiding van die berig in Die Hoorn van 8 Februarie in verband met die verandering van Voortrekkerweg na Nelson Mandela Boulevard, die volgende:
Ek is seker dat al die inwoners baie waardering het vir die omkeerstrategie in ons dorp, en die werk wat steeds in dié verband gedoen word. Dit is egter ontstellend om te moet verneem dat die DA-raad so ’n voorstel sito-sito aanvaar sonder om dit te toets aan die wense of behoeftes van die gemeenskap.
Die toestand van die paaie en strate van ons dorp behoort ’n prioriteit vir die raad te wees, aangesien dit be-staande infrastruktuur is wat sienderoë besig is om agteruit te gaan.
Boonop verneem ons ook die week dat water uit die krane nou gekook moet word om dit veilig te maak. Dít raak die gesondheid van inwoners terwyl die raad tyd en geld bestee aan ’n straatnaamverandering wat geen voor-deel vir ons as inwoners inhou nie.
Telkens wanneer inwoners navraag doen oor die herstel van ’n gat waar aan waterpype of kragkabels gewerk is, is die antwoord dat daar beperkte fondse is en dit eers sal moet wag.
Terselfdertyd kondig die raad aan dat die verandering verkieslik voor die ko-mende KKNK moet plaasvind.
Vanwaar die dringendheid terwyl daar ander dringende werk is om te doen met die beskikbare fondse?
Dit is ’n skrale troos dat daar ’n openbare deelnameproses geloods gaan word. Die fondse wat hieraan bestee moet word, behoort eerder aan instand-houding bestee te word.
Inwoners en besoekers aan ons dorp het dit veel eerder nodig om die straatname op die randstene te kan lees – wat in baie gevalle so dof en verweer is dat dit beswaarlik leesbaar is.
Die vraag kom onwillekeurig by my op watter voordeel daar vir Oudtshoorn in so ’n uitgawe is? Vir wie se rekening gaan onnodige uitgawes wees wat besighede moet aangaan om adresse te verander?
Dit blyk op die oomlik asof dit net ’n kwessie van klim op die “bandwagon” van politieke gedienstigheid is ongeag ander dringende behoeftes.
Ek wil ’n beroep op die raad doen om hierdie saak wat niks anders is as ’n vrugtelose uitgawe nie, opsy te skuif, en te konsentreer op die sake wat dringend aandag moet kry.
– D Haasbroek, Oudtshoorn