’n Lekker Nuwejaar!

Deur Poem Mooney

Dit was middel Februarie en omdat die voëls so lastig was, het Oupa daarop aangedring dat ons al die druiwe so gou as moontlik afsny. Oupa was baie trots op die opleiwingerd in sy agterplaas. Hy wou vir ons rosyne maak en die hanepoot was baie geskik vir hierdie doel.

Snaaks, ek was nogal baie opgemaak met die pas afgelope Nuwejaar op Jakkalsfontein. Dit was ’n goeie Nuwejaarsaamtrek en die mense onder wie al ons persoonlike vriende, kennisse en fami­-lielede getel het, het van heinde en verre gekom.

Ons het by oom Dries van Heerden onder die Kareebome op sy werf laer getrek. Dit was die Snymans van Rondekop, die Arendses van Voëlfontein, die Booysens van Ribbokskloof, Harmaans Kammies en sy susterskinders van Uilkraal, die Oppermans van Biesieskloof en feitlik ’n derde van Renosterburg se inwoners.
Ant Mina Draai-hulle het al die vorige dag van Appeliefiefontein gekom, juis omdat sy ’n bobaasbakster was.

Ma het geglo aan Ant Mina se soetkoekies, kolwyntjies en die koeksisters wat sy so gereeld gebak het. Haar vernuf as die dorp se beste het aan haar groot roem in Renosterburg en omgewing besorg.

Dit was ’n wonderlike gesig om die saamtrek op die werf van oom Dries gade te slaan. Die mense het op dekens en komberse onder die bome gelê. Die rygoed het gewissel tussen motors, bakkies, fietse, donkiewaens, trekkers met sleepwaens en perdekarre.

Flip Januarie was van die voorste organi­seerders. Hy het toegesien dat daar volop vleis was. Oom Hendrik Danster het vyf bokke en vier skape geslag. Oom Hendrik het ’n jong kalf by ou Wouter Theron gekry. Wouter het voorgestel dat hulle die kalf op ’n spit moes braai. Hierdie gedagte het sommer byval gevind by oom Hendrik en hy het die seuns van ou Jan Karools afgesonder vir hierdie spesifieke taak. Almal het die Karoolse van Vleiland geken en almal wat hulle geken het, was dit eens dat daar nêrens in die Kouveld mense was wat kon vleisbraai soos die Karoolse van Vleiland nie.

Tant Alie Pretorius en die span vroue van Klipdrift moes sorg vir die drinkgoed. Hulle het dadelik werk gemaak daarvan en gemmerbier, magou, lemoenstroop, Oros en hopbier gemaak. Daar was ook ’n groot verskeidenheid aanmaakkoeldrank.

Kerneels van ou Tokkies Prinsloo moes sorg vir die ander drinkgoed met ’n bietjie meer skop in. Vir hierdie doel het oom Petrus Windvogel ’n spesiale skerm van doringtakke gemaak. Hy wou dit so hê dat die ouens wat so af en toe ’n draai wou loops, so ongemerk as moontlik hulle bene kon sterk maak. Hierdie voggies het gewissel van turksvye, gemmerbier, heuningbier, wyn en brandewyn.

Ou Salmon Pendoring moes hout en water aanry. Dit was ’n taak wat hy elke jaar met ’n groot mate van verantwoordelikheid gedoen het. Salmon het altyd gesorg dat daar genoeg brandhout vir die vuur was en saam met Andries van ant Poela en Dolfie Antonie was hulle ’n gedugte span.

Die voorafreëlings vir die Nuwejaarsviering op Jakkalsfontein was ’n belewenis wat in die annale van ons mense se manier van feesvier geen gelyke gehad het nie.

Nettie van oom Baby Hattingh, Spaas Ockhuis en ou Bet Karelse het die vorige nag en daardie einste Oujaarsdagmôre bontgestaan rondom die kastrolle by die oop vuur, want ou Flip Januarie het reguit gesê dat daar nie ’n krieseltjie kos verlore moet gaan nie. Hulle was verantwoordelik vir die kerrieafval, geelrys, braaiaartappels en al die ander bykosse wat ’n Nuwejaarsdagmaal reg­verdig. Oom Baby het nie verniet by Jasper Cloete gewerk nie, en op sy beurt was Jasper nie verniet bekend as die suksesvolste groenteboer op Renosterburg nie. Hy het die hele omgewing in en rondom die dorp se plaasbewoners laat eet dat hulle kraak.
Oom Dries van Heerden het altyd gesê die mense van Jakkalsfontein handhaaf ’n hoë standaard van Nuwejaarsviering waaraan hulle nie graag sal wil afbreuk maak nie. Oom Dries kon nie ophou om die mense te motiveer om die verrigtinge net elke jaar te verbeter nie.

“Lekker,” het Oom Ben gesê, “kan aan so baie ander dinge gekoppel word. Ons praat juis vanmôre oor ’n lekker Nuwejaar. Daar is baie anner dinge as juis dit waaroor ons vanmôre gesels.”

My gedagte het sommer weer teruggeflits na die lekker van die pas afgelope Nuwejaar.

Ons het vleis geëet soos nog nooit tevore nie. Ek het nooit geweet Hendrik Benjamin kon sulke lekker boerwors maak nie. Die vleis wat die Karoolse van Vleiland gebraai het, was onverbeterlik. Dit was die heel eerste keer in my lewe dat ek deel was van ’n spitbraai. Ek het opnuut besef as ’n ding goed of lekker georganiseer is, dit sommer net lekker verloop. Oom Flip Januarie was nie verniet so pynlik aanhoudend oor hoe daar geslag moet word, wie moet slag en wie moes kosmaak nie.

Dit was ’n hele gedoente daar onder die bome op Oom Dries van Heerden se werf. Die kinders het koekies geëet, gemmerbier gedrink en tussen die soetgoed deur wors en vleis geëet.

Fanie Lemmetys het laat die Oujaarsmiddag opgedaag met ’n trekker en sleepwa vol mense. Dit was die span wat van Good Luck se kant was. Behalwe die mense het Fanie waatlemoene en spanspekke ook saamgebring.

Die mense het geëet totdat hulle skuins gelê het onder die bome. Dit het byna gelyk na ’n Nuwejaarslagting.
Die dans het so vanaf negeuur daardie Oujaarsdagaand begin. Die Lemmetyse was van die voorste musikante wat die dansgroepe moes begelei en die spulletjie het reg voorberei gekom.

Jood en Sydney Lemmetys het kitaar gespeel. Fanie was op die tromme. Krokkies en Stoffeltjie het die konsertina en die trekklavier gespeel. Pikes het gesing en Jaffie was die man wat die bekfluitjie hanteer het. As ek egter ’n prys moes gegee het, dan sou dit definitief Jood en Sydney toegekom het, want praat van kitaarspeel, dan sê ek nou al vir jou die Lemmetyse tel onder die bestes na wie ek al geluister het.

Die musiek was opwindend en die dansers was energiek en halfpad uitgelate. Kerneels en Takkies Prinsloo het goed gesorg vir die dorstige manne en ou Petrus Windvogel was baie bly dat hy die doringtakskerm laat bou het vir die manne, want dit was sommer van die begin af duidelik dat die kinders die skerm van ou Petrus gesien het as ’n stukkie verbode terrein vir alle minderjariges.

Die musikante was begeesterd en hulle het die liedjies ingeryg soos krale en die pare het gedans dat hulle voete so hier en daar grondvat. Die lekkerbekke van Gatplaas het al om die dansbaan gestaan met groot borde kerrieafval, geelrys, gebraaide aartappels, koolfrikkadelletjies, groenbone en soetwortels.

Die mans wat van tyd tot tyd gekuier het by die doringtakskerm, was hier kort voor middernag net lekkerlyf, maar heeltemal bevoegd genoeg om hulle vriende, dierbares en kennisse ’n aangename en voorspoedige Nuwejaar toe te wens toe dié oomblik aanbreek, maar nie grootdoenerig nie. Hulle was geswael, maar niemand het probeer om die partyjie op te breek nie.

Die dans was reeds in volle swang toe die Nuwejaar aanbreek. Waar die klappers vandaan gekom het, weet nugter in sy dronkenskap. Daar was eensklaps ’n helse ontploffing en toe leef die hemelruim eensklaps soos die sky rockets in die lug opskiet. Oral op die werf het die kleintjies rondgehardloop met starlights, blue stars en allerhande soorte vuurwerke.

Iemand het op ’n motor se toeter gedruk en toe leef dit op die werf. Die fietsers het hul fiets-klokkies gelui, motors en trekkers en toeters is geblaas en mense het luidkeels oor en weer “Happy New Year” geskreeu. Die geklap en die geknal van die vuurwerke het tot laatnag aangehou en uiteindelik is die geluide oorheers deur die kitaarmusiek. Dit was baie aangenaam om te luister na die vrolike gesprekke, die luide geskater van dansende paartjies en die ritmiese geroffel van die tromme en die diepdreun van die snaarinstrumente.

Vir die grootmense was die aand egter nog bloedjonk, want hoe later, hoe kwater het die dans sy momentum gekry. Die paartjies het gewals, getiekiedraai en getwist. Hulle het gerock and roll, gecharlston; hulle het square gedans, askoek getrap, gequickstep en geblues.

Teen vieruur daardie Nuwejaarsmôre het Gats-plaas se lekkerbekke groot bekers koffie aan­-gedra met roosterbrood, halwe skywe bitter­- lemoenkonfyt en turksvystroop met heerlike vars plaasbotter. Dit was hemels om net te eet wat jou hart begeer. Marta Esau het links en regs bevele uitgedeel en so tussen die bevele deur het sy haar trots uitgespreek teenoor almal wat binne hoorafstand was oor die vernuf, die verantwoordelikheidsin en die hardwerkendheid van die Gatsplasers.

Die Lemmetyse het die pap dik aangemaak en so tussen die dansery deur was daar luide uitroepe van “druk deur dag toe!” en ek het geweet die mense gaan dans totdat die rooidag breek!

Ek was baie verlig toe ek die laaste tros druiwe versigtig in die ballasmandjie voor my neersit. Nadat ek die mandjie behendig op my skouer gelig het, het ek stadigaan begin stap in die rig­ting van die waenhuis waar Oupa ons ingewag het. Oom Ben het kort agter my gestap.

“Weet jy, Gert,” het oom Ben gesê, “die spreekwoord sê mos lekker is net ’n vinger lank en ek sê nou vir jou ek stem volkome saam met daardie einste spreekwoord. Kyk net hoe gou het die Nuwejaarsfees op Jakkalsfontein verby ge­snel. Ek sê vandag vir jou vir my part kan die fees nog voorgelê het.”

“Is waar, oom Ben,” het ek opgemerk. “Om te dink dit is nou weer twaalf maande voor die volgende Nuwejaar. Ek wonder, sal ons almal weer by wees om so lekker saam fees te kan hou?”

“Ai, my kind,” was Oom Ben se antwoord, “die gesangdigter sê: Wie weet of môre ooit sal kom, genadetyd is weldra om…

“Ons leef op genadetyd, ou Gerrie, ons leef ook maar net op genadetyd. Daar is ’n goeie ou spreuk wat sê: Lekker is net ’n vinger lank, en daarom kry jy mos net uit die lewe wat jy bereid is om daarin te sit.”

Ons het in stilte verder gestap. Ek het geluister na die geknars van ons voetsole op die gruis in die paadjie voor die waenhuis. Oom Ben s’n swaarder en growwer as myne.