Briewe van lesers

Lek van inligting: Stop dié dislojale amptenare

Die uitlek van vertroulike inligting voor­dat dit deur die raad bespreek is, is ’n algemene verskynsel by die Oudts­hoorn Munisipaliteit.

Dit is ook die hoofrede waarom die raad voortdurend in ’n swak lig gestel word en vir die negatiewe publisiteit. Dit is daarom verblydend om te lees die burgemeester gaan laat ondersoek wie die skuldiges is en dat teen hulle opgetree gaan word. Dit sal die moeite werd wees om intelligensiepersoneel aan te stel en sodoende vir eens en altyd hier­die dislojale amptenare te stop.

Dit behoort ook nie eens so moeilik te wees nie, want met die Wentzel-verslag het persone in wie se besit die verslag was, openlik uitsprake gemaak en verklaar dat die verslag in hul besit was. So is daar ook baie fakture en ander belangrike inligting wat op sosiale media en in die pers versprei word.

Hoop die burgemeester is ernstig wanneer hy sê dat daar ’n einde aan gemaak gaan word.
– Lojale Oudtshoorniet