OP Saterdag 14 Maart 2020 het ’n e-pos van die KKNK die slegte nuus gebring wat ons aan ons lesers moes oordra: “In die lig van toenemende kommer oor die Covid-19-pandemie het die bestuur en direksie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees besluit dat dié fees op Oudtshoorn nie soos beplan van 23 tot 29 Maart 2020 sal voortgaan nie.”
Die dorp se mense was geskok en hartseer. Die Oudtshoorniete was gereed om die dorp se strate en bome en winkels met kleurryke brei- en hekelwerk te versier waaraan hulle maande lank gewerk het – dit was net nege dae voordat 2020 se KKNK sou afskop en die dorp was gereed – planne gemaak vir die fees, aankope gedoen vir die duisende feesgangers wat op pad was, verblyfplekke opgeknap, besighede gerat en gereed vir die duisende besoekers.
Dit was seker die dag wat die KKNK se direksie een van sy ingrypendste besluite ooit moes neem – en dit wel op ’n nugter en rasionele wyse geneem het.
Soos die artistieke direkteur van die fees, Hugo Theart, die afgelope Sondag op sosiale media geskryf het:
Op 14 Maart om 09:00, presies ’n jaar gelede, het die KKNK-direksie en bestuur in ’n vergadering ingegaan waar ons een van die moeilikste en ondenkbare maar onafwendbare besluite moes neem om KKNK2020 uit te stel. (’n Week later het ons president die nasionale grendelstaat aangekondig). Die dag was die eerste oomblik waar die realiteite van die pandemie by my ingeskop het, maar nog nie die volle impak wat dit op ons almal se lewens sou hê nie.
Dit was definitief ook die dag wat weer vir my onderstreep het hoe ongelooflik bevoorreg die KKNK is om die direksie te hê wat ons tans het – ’n groep mense wat nie skroom om die verantwoordelike besluite te neem nie en wat met soveel integriteit, passie en deernis omgaan met ons bedryf en die fees. Individue wat self ingespring het om te help en altyd daar was vir raad en ondersteuning. (En miskien ook belangrik om te noem dat die direksielede géén betaling ontvang vir hul betrokkenheid op die raad nie; dit is dus pure passie en omgee).
Dié aankondiging was die eerste van vele wat noodgedwonge later deur verskeie feeste en teaters regoor ons land gemaak moes word. Maar hierdie was die eerste nasionale kunstefees wat dit moes doen, ’n week voor die fees sou begin. ’n Moeilike dag. ’n Onaangename dag. Maar ek onthou ook die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang het van al ons feesgangers, vennote, die mense van Oudtshoorn, die bedryf en ons borge wat met deernis en sonder skroom steeds saam met ons werk om deur die KKNK te ondersteun ’n verskil te maak waar moontlik.
Die kunstenaars en betrokkenes by die bedryf wat nie gaan lê nie en aanhou en veg – julle is helde – elkeen wat probeer en ’n bydrae maak op watter manier ook al. Die effek is verpletterend, maar ek glo dat ons almal sterker en wyser en met meer deernis vir ons medemens aan die ander kant sal uitkom.
Mag ons aanhou om om te gee en saam te veg vir ’n beter wêreld. Ons kan dalk nie op die oomblik fees hou soos wat ons wil nie, teater-, musiek- en dansverto-nings aanbied soos wat ons nodig het om te doen nie, maar met nuwe planne en innoverende idees sal ons aanhou en voortbeur, tot ons almal weer byeen kan kom.
Mag ons mekaar ondersteun in wat nog ’n moeilike jaar sal wees en aanhou glo dat beter dae sal kom.
• Saam met die KKNK in 2020 was die Kango Grotte, die SA Tweekampkampioenskap wat op Oudtshoorn sou plaasvind, die Zoar Oesfees en verskeie kerk- like bedrywighede daardie week slagoffers van die eerste inperking.
Nou is ons ’n jaar later en kan ons steeds nie fees hou nie. Diegene wat egter Die Hoorn en die KKNK volg, sal weet dat die KKNK steeds betrokke is by die opheffing van veral jongmense deur die kunste met verskeie projekte en kursusse wat tans met die hulp van borge aangebied word. Welgedaan!
En by Die Hoorn glo ons dié Klein Karoo-fees gaan die een of ander tyd weer sy vere mag regskud en mense op Oudtshoorn ontvang, al lyk die formaat dalk anders as waaraan ons gewoond was. (Deur Liesel le Roux)
Afstel van KKNK ‘20 was moeilikste besluit
’n Terugblik na hoe Oudtshoorn gelyk het in die eerste dae waarop verlede jaar se KKNK sou plaasvind - die dorp was steeds veelkleurig getooi in gebreide en gehekelde komberse en ander versierings, al het die fees as gevolg van die Covid-19-pandemie nie plaasgevind nie. Foto: Hans van der Veen