’n Klomp lesse van Antie Minah

Deur Poem Mooney

Ek wil julle graag inlig oor die storie, wat ek jare gelede by ant Minah Bron van Spikkelfontein gehoor het.

“Antie Minah,” het my ma altyd gesê, “is ’n Israeliet sonder bedrog.”

“Ant Minah,” het ek haar eendag gevra, “waar kom die naam Spikkelfontein vandaan?”

“Jong, Gert,” was haar antwoord, “onse vergrootjie het die plaas aangelê, en hy het dit genoem na die sterrehemel waarvan die sterretjies, miljoene sterretjies, spierwit spikkels teen die donker naghemel gemaak het.

“As kinders het ons baie aande by die fontein ons aan hierdie natuurwonder verkyk.”

Ek het ant Minah sprakeloos aan­ge­kyk oor hierdie uitleg van die plaas se naam.

“Hierdie oeroupa van Antie Minah moes ’n merkwaardige man gewees het,” het ek opgemerk.

“Hy was, want soos hy die plaas staangemaak het, het hy die Bron-fa­milie staangemaak, maar dít my kind, is ’n storie vir ’n ander dag.”

“Maar dit is mos nie waarvoor jy vandag by my kom kuier het nie, Gert?” het sy die gesprek in ’n ander rigting gestuur.

“Ek wou maar net met Antie praat oor die lewe vandag. Ons kinders wat so steel, hulle wát so aan dwelms verslaaf is, hulle wat soos weglooppatrone koers kies, sonder ideale.”

Daardie môre het ant Minah my ’n klomp lesse in ’n kort tydjie geleer.

Sy het aan my gesê dat nêrens in ons land en in die wêreld daar ouers is wat hulle kinders verkeerde dinge en verkeerde gebruike aanleer nie.

Geen ouer met gesonde verstand leer hulle kinders verkeerd nie.

“Kinders leer verkeerde en vreemde gewoontes en verkeerde gebruike aan by mense met selfsugtige bymotiewe.”

Sy het lank stilgebly, asof sy verwag het dat ek meer moet sê, dat ek van al die luise in my kop ontslae moet raak.

Ek het haar vertel van die onge­vraagde inbrake in ons woonbuurte. Die diefstal wat swaarverdiende geld en goed uit ons mense se hand uitruk.

Ek het haar vertel hoe ons mense se persoonlike privaatruimtes binnege­dring word. Eintlik besoedel word deur grootskaalse plundering asook hoe die omheining van die dode-akker stuk-stuk weggedra is.

Die groot hartseer waarvan ons verneem het, is dat hierdie vergrype selfs in eie huishoudings plaasvind; deur dierbare kinders wat aan dwelms verslaaf is.

Dié kinders word tikkoppe genoem deur hartelose mense.

Ek het haar vertel hoe die diewe by kerke in ons woonbuurte inbreek, die omheining en veiligheidshekke afbreek. Glasware stukkend gooi en selfs duursame elektroniese apparate wegdra. Rekenaars, selfone en “tablette”.

“Aanvanklik was dit net ’n tuinslang, ’n potplant of watermeter, maar deesdae is dit elektriese be­drading en veiligheidsligte wat skadeloos gestel word deur die diewe.”

Ek het aan haar vertel van my bekommernis en die plaende vrae waarmee ek worstel.

“Wie koop die steelgoed, Antie? En wie verkoop die dwelms aan ons kosbare kleingoed?”

Ek het selfs al begin wonder of daar enige duister magte skuil agter hierdie duistere wandade.

Die gemeenskap loop deur, kerke, skole en klein besighede word die skyf van hierdie sogenaamde “tikkoppe”.

Ek het myself voorgeneem om nie afsydig te staan teenoor ons kinders wat aan dwelms verslaaf is nie, maar wel teenoor die dwelsmouse wat besig is om ons kinders dwelmafhanklikes te maak.

Antie Minah het my goed uitgeluister en toe het sy geantwoord: “Jy weet, Gert Mooney, daar is ’n spreekwoord: God’s meule maal langsaam, maar gewis.

“Entlik sê dit: Die straf vir oortre­­-dings bly dikwels lank weg, maar dit kom seker.”

Sy het haar hande plegtig op haar skoot gevou en toe sê sy: “Los maar die mense wat die steelgoed koop, Gert Mooney.

Los die dwelmhandelaar en die vreemdelinge wat ons woonbuurt vernou. God ken sy tyd. Lekker is net ’n vinger lank…”